Breaking News

No breaking news at this time

Kunstenaarsprofiel: Marike Naudé

Sy is ’n gastehuiseienaar, boervrou en ma van drie. Marike Naudé, ’n oudonderwyseres van Worcester, het maar ’n paar jaar gelede die tyd ingeruim om meer intensief op haar kuns te fokus. Maar kuns was haar lewe lank al ’n passie.

Marike het tans ’n uitstalling saam met Johann Venter (J. Petrus Venter) by Kaleidoskoop se i-Art Galery. Sy het met haar nuwe fokus op kuns onder meer by hom aangeklop vir lesse, en hul gesametlike uitstalling is haar eerste tweeman-uitstalling.

Marike se kuns-storie

“My liefde en belangstelling vir kuns is deur my pa aangemoedig. Hy het my as jong dogtertjie (in Bellville) na kunslesse geneem by Elize Bodly van Wyk, welbekende Suid-Afrikaanse kunstenaar.

“Ek het kuns gehad op hoërskool, tot matriek, by oorlede Paul van Niekerk wat bekend is vir sy sketse in tydskrifte. In Mowbray het ek in my vierde jaar my HOD (Kuns) gedoen. Elske Maxwell, destyds hoof van die uitstekende department, was ’n boorling van Worcester en instrumenteel dat ek in Worcester my eerste pos aanvaar het.

“As onderwyser het my pad met uitstekende kunstenaars gekruis. In die jare 70 was Worcester se kunsvereniging baie lewendig, met die inspirasie van Connie Burger en Helen Walters.

“Ek was kunsonderwyseres vanaf 1979 by die destydse Meisieskool, later Voorbereidingskool en De la Bat. Ek het die voorreg gehad om kollegas Timo Smuts en Francois Tiran, en vele ander onderwysers en hoofde van die Kunssentrum te leer ken.”

Marike is tans eienaar van ’n gastehuis op die plaas Esperance in Overhex.

Inspirasie en motivering

“Om ’n paar jaar gelede my fokus te skuif na my eintlike passie vir kuns, die tyd te kon inruim en myself verder te ontwikkel, het ek by onder andere Tanya Swiegers en Johann aangeklop. Tans is ek ’n student van Pieter Vermaak in Onrus.

“Ek het deur die jare al dikwels aan groepuitstallings deelgeneem, maar dit is my eerste deelname aan ’n tweeman-uitstalling. Omdat ek Johann se vaardigheid as kunstenaar hoog op prys stel, het die gedagte ontstaan om saam so ’n doelstelling te hê. Ons albei het maar aanmoediging gekort.

“Met sulke uitmuntende kunstenaars op my pad, soos ook die bekende Francois Gerber, is daar ’n rykdom van inspirasie vir tegnieke, style en kleurgebruik. Ook van die ou meesters, veral plaaslike bekendes soos Hugo Naude en Jean Welz, kan mens nie nalaat om te noem nie.

“Omdat ek ’n voorliefde vir kleur en spontaneïteit het, asook lig op voorwerpe, bied ons lieflike omgewing soveel wat my motiveer. Ek beskou dit as ’n reis wat hopelik nog lank en lekker kan voortgaan teen my eie spoed.

“As kunstenaar wil mens die belewenis deel deur ’n persoonlike uitdrukking. Ek ontgin dit nou eers as ’n nuwe taal. Soos die pen magtiger as die swaard is, is die kwas ’n kragtige medium in die sosiale lewe. Dit is ’n manier om met konsepte ’n stem te wees.

“My grootste motivering is om ander aan te moedig dat mens nooit te oud is om aan ’n droom gestalte te gee nie. Mag ons die vermoë hê om te fokus op dit wat waar, mooi en goed is. Mag ons so krag ontwikkel om realiteite op ’n positiewe manier te verwerk en ’n verskil te kan maak.”

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (1 votes, average: 1.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
herwinning-apd-groenstoor
APD, Groenstoor span saam vir herwinning

Die Breedevallei Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) en Pure Boland Mark het onlangs kragte saamgesnoer om herwinning in Worcester...

Close