Breaking News

No breaking news at this time

Gesondheid en jongmense: dié wat weet gee raad

“Ons is nie net dienaars in die omgewing van openbare gesondheid nie; baie van ons is ook ouers of voogde. Net soos ons net die beste vir ons eie kinders wil hê, so wil ons personeel ook vreugde en geluk by ons jeug sien.”

En dit is die rede hoekom die provinsiale gesondheidsdepartement ’n paar welstand-wenke met jongmense deel:

• Die beste manier om jouself te beskerm, is om van gewaagde gedrag weg te bly!

• Moenie na partytjies toe gaan as jy weet daar gaan drank of dwelms wees nie. Dis nie nodig om jouself in ’n posisie te plaas waar jy dalk onder druk sal wees om deel te neem nie.

• As jy probleme by die huis het, as jy mishandel word of iemand by die huis maak dit moeilik vir jou om daar te bly weens drank- of middelmisbruik, vra by ’n kliniek om met die maatskaplike werker te praat.

• Gaan elke dag skool toe. Opvoeding is die sleutel tot ’n goeie toekoms.

• Doen ten minste een winter- en een somersport, of stap of hardloop elke dag 20 tot 30 minute.

• Wees trots op jou gesondheid en pas dit op.

As jy seks het:

Gebruik kondome

Kondome is verniet by alle klinieke – op party plekke selfs gegeurde kondome! Dit help nie net om seksueel oordraagbare infeksies te voorkom nie, maar ook swangerskap. Al sê jou bedmaat sy gebruik geboortebeperking, gebruik ’n kondoom elke keer wanneer julle seks het. Kondome kan net een keer gebruik word en dit moet weggegooi word na dit gebruik is.

Kry MIV-toetse en berading

Dit is baie belangrik om te weet wat jou MIV-status is. As jy MIV-negatief is, kan die kliniek jou help om so te bly. As jy MIV-positief is, is dit belangrik dat jy die regte berading ontvang vir jou gesondheid en moontlike behandeling.

Vra raad en leiding

Alle seksuele aktiwiteit moet met albei maats se instemming gebeur. Al gee iemand vir jou ’n geskenk soos ’n selfoon of koop vir jou klere, beteken dit nie hulle kan seks in ruil daarvoor vra nie. Jy hoef nie seks te hê nie. Jy kan nee sê. Seks sonder toestemming is verkragting. Selfs al het jy voorheen seks gehad, bly jou nee jou nee.

Manlike Mediese Besnyding (MMB)

Dis ’n veilige en doeltreffende manier om die kanse te verminder om MIV op te doen en te versprei. Met MMB word die voorvel verwyder sodat die MI-virus nie daar kan “wegkruip” nie. MMB het ook ander voordele.

Geboortebeperking

Klinieke het ’n verskeidenheid geboortebeperkingsmetodes wat alles verniet is. Verpleegkundiges kan jou help om die geboortebeperkingsmetode te kies wat die beste vir jou sal wees. Sommige dames verkies die beheer wat die Pil hulle bied, en ander verkies weer die twee- of driemaandelikse inspuiting of selfs die inplanting, wat in jou boarm geplaas word en net elke drie jaar vervang moet word. Nog ’n voordeel van geboortebeperking is dat dit dikwels jou maandstonde beheer, wat beteken jy weet wanneer jy jou maandstonde sal kry en jy kan dus beplan.

Die gesondheidsdepartement het ’n vennootskap met ’n aantal apteke waar vroue hul geboortebeperking kan afhaal. Vra by jou plaaslike kliniek of daar ’n apteek naby jou is waarmee hulle so ’n vennootskap het.

Noodvoorbehoeding

Dit is ’n pil wat binne 72 uur (drie dae) na onbeskermde seks gedrink kan word en dit sal swangerskap voorkom. Jy moet so gou as moontlik kliniek toe gaan nadat jy onbeskermde seks gehad het of as die kondoom breek.

Keuses vir onbeplande swangerskap – Dit is belangrik dat jy kliniek toe gaan as jy vermoed jy is swanger. Moenie langer as twee weke wag nie. Hoe vroeër jy kliniek toe gaan en met die gesondheidswerker praat, hoe gouer kan jy die beste besluit vir jou en jou liggaam maak.

Ander wenke vir goeie gesondheid:

Sorg vir jou geestesgesondheid

Depressie en ander siektes van die verstand en emosies kom al hoe meer algemeen in ons gemeenskappe voor. Vra hulp as jy wanhopig of depressief voel.

Algemene gesondheid

Verpleegkundiges is opgelei om jou met inligting en leiding te help oor hoe om gesond te leef. Baie klinieke het ondersteuningsgroepe of kan jou na nieregeringsorganisasies verwys wat aktiwiteite en emosionele ondersteuning aan jongmense bied.

Kry hulp met enige siekte

Dit het ’n uitwerking op jou algehele welsyn en verhoed jou dikwels om jou doelwitte te bereik.

Besoek die Wes-Kaapse departement van gesondheid se webwerf vir meer inligting oor gesondheidskwessies.

Het jy ’n storie wat jy wil deel of wil lees? Klik hier om jou voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Education, Helpful Hints
Postnatal depression
Postnatal depression – a local mom’s take

The Postnatal Depression Support Association of South Africa (PNDSA) says 10% to 30% of all mothers, in all circumstances, will...

Close