Breaking News

No breaking news at this time

Omdat misdaad nooit slaap nie

“Okay julle, kom ons kyk gou vinnig hoe kan ons help en saamstaan asb. Ek staan by ’n huis in Heynsstraat wat gebrand het. Die brandweer is hier en als. Dis baie ou mense; regtig bejaardes wat in die woning is. Ekt hulp nodig met hulle om hulle net te kalmeer en hulle familie te kontak. Asb. kom ons staan gou saam. Dié wat kan kom, help gou hier asb.”

Dis die eerste van ’n paar WhatsApp-boodskappe wat heen en weer gestuur word op 29 September 2014. Ses ure later kom ’n update en ’n dankie: “Baie dankie almal wat vandag gehelp het met die huis wat afgebrand het. Ek sou dit wragtag nie sonder die hulp van ons WhatsApp-groepe in die sektor kon gedoen het nie. Julle was great regtig. Gaan niemand uitsonder nie; julle weet wie julle is. God seën.”

Dis nou sers. Julian James Plaatjies aan die woord. ’n Polisieman met hoop. Dat mense die polisie sal sien “in die ou sin van die woord”. Manne en vroue in blou wat iets van alles vir die gemeenskap is. Wat gerespekteer word. Wat vir kinders ’n voorbeeld stel waaroor hulle kan droom. Hy werk hard daaraan om misdaad te bekamp en dié hoop te leef.

Daar’s die patrollies wat hy ry. Dis nie regtig sy werk nie, want daar is ’n patrollie- en klagtevoertuig. Maar hy glo in ekstra stelle oë op die pad. So ver hy ry maak hy aantekeninge waar huise swak belig is of bossies langs die pad is waarin misdadigers makliker kan wegkruip. Dalk sal die eienaars of munisipaliteit iets daaraan doen.

’n Oog word gehou op die huise waar bejaardes woon, en op Donderdae word daar by minstens drie van hulle besoek afgelê. Net om op hoogte te bly van die veiligheidsbehoeftes en -kwellinge van dié kwesbare inwoners in sy sektor, en om vir hulle belangrike veiligheidsinligting deur te gee.

Die vinnige geselsies wat hy aanknoop met die mense wat die swartsakke deursoek het twee goeie uitwerkings, glo hy. Hy leer hulle ken, en hulle voel die polisie se teenwoordigheid.

Naweke klim GPF-lede wat as buurtwaglede ingelyf is saam met hom in die motor en ry die sektor straat vir straat deur. Nie net om saans patrollie te doen nie, maar ook om te sien wat in die buurte aangaan en na inwoners te kan teruggaan met hoe hulle hulself beter kan beveilig.

Dan is daar weke waarin hy vrywillig inwonersvergaderings bywoon of saamgaan wanneer die munisipaliteit ’n opname van informele wonings in die sektor doen. Hy’s op WhatsApp-groepe om vrae te antwoord en het die sektorfoon meestal by hom.

Tussendeur dit alles mag hy nie té geheg aan enigiemand raak nie. Want die letter van die wet moet toegepas word, maak nie saak met watter mens hy te doen het nie.

Jou amptelike posbeskrywing?

Sektor-bevelvoerder in Sektor 4 (die uitgestrekte stuk dorp noord van die treinspoor wat strek van Worcester-Wes aan die een punt en Meiringspark aan die ander). Ons is die link tussen die polisiestasie en die gemeenskap daarbuite. Aan die begin het ek baie teenkanting gekry van die breë wit gemeenskap. Nou voel ek hulle sal my nie wil weghê nie.

Hoe lank doen jy al die werk?

1 November 2014 sal dit 16 jaar wees. Ek het twee en ’n half, drie jaar terug in die sektor begin.

Wat dink jy sal ander mense afskrik, wat vir jou nie eers saakmaak nie?

Ek dink die lang ure werk. Seker die gru-tonele ook, maar dis maar deel van die werk.

Wat is wél een van die klein jakkalsies wat aan jou krap?

Ek is lief vir my werk, maar as ek net kyk hoe polisiemanne doodgemaak word vir ’n pistool of kar, dan dink ek by myself Julian Plaatjies, jy wil een dag jou kleinkinders sien grootword. Dis nie dat ek ander werk soek omdat ek nie my werk geniet nie. Maar my ouer broer is in die Paarl-blitspatrollie. Hy het nog altyd gesê as ons almal bang is, wie gaan die werk doen?

Die beste deel van jou werk in die polisie?

Die tevredenheid van inwoners as mense sê die polisie doen hulle werk.

Die slegste deel van jou werk?

As mense met daardie aanvallende attitude kom van “Ek betaal belasting; ek betaal jou salaris”. Ek betaal ook belasting. Beteken dit ek betaal my eie salaris?

Hoeveel ure werk jy?

In die week is my ure 08:00 tot 16:00, maar ek is nooit 16:00 by die huis nie. Ek werk ook baie by die huis, maar my liggaam is al aangepas. Seker so 60 tot 65 ure per week. Die werk is uitputtend, maar ek probeer my stelselmatig losmaak. Die dinge soos die GPF-subforum en buurtwagte begin nou vlieg. Die gemeenskap moet mekaar accountable hou. Ek wil glo ons verander mense se siening oor misdaad, om te sê kom ons verhoed dit.

Hoeveel kilometer ry jy?

Tussen 2 500 en 3 500 per maand. So tussen 150 en 190 ’n dag.

Hoeveel skuldigbevindings het jy mee gehelp?

Voor Worcester het ek by ’n paar speurtakke gewerk waar ons heelwat skuldigbevindings gehad het. In 2002 was ek deel van ’n taakspan wat die 7-Eleven-rooftogte ondersoek het. Daar was 21 jaar-, 19 jaar- en lewenslank-convictions. In Worcester was daar so twee en ’n half jaar terug ’n huisroof waar die ou tans in die gevangenis is. Ek dink hy het 15 jaar gekry.

As jy moeg en keelvol raak om misdaad te bekamp?

My vrou en drie kinders is my recharge. My vrou is ook my ander oë. Ek aanvaar háár opinie. As ek voor my rekenaar sit en moeg raak, kry sy my ook weg – ek móét afswitch. En dan sal ek soms sê dié naweek skakel ek af, en dan herlei ek my foon.

Iets wat jy nooit sal vergeet nie?

Baie jare terug het ek ’n saak help ondersoek waar ’n jong meisie van Franschhoek dood is. Dit het gelyk na selfmoord, maar die ma het eintlik die toneel verdoesel. Ek het op die toneel al agtergekom iets is nie reg nie. Toe ek ’n jaar na die voorval kon teruggaan met ’n lasbrief om haar te arresteer, het sy na my toe gekom en gesê mnr. Plaatjies, ek is nou by jou. So asof sy vir my gewag het om te kom. Dit het my getref dat ’n ma haar eie kind kan doodmaak oor die skande dat sy in matriek swanger geraak het.

As jy enige ander werk kon kies, wat sou dit wees?

As ek ‘n trokdrywer was en ek kon my vrou en kinders saamvat, dan sou ek betaal word om die land te sien.

Dit is moeilik om mens in te dink waar hy die tyd vandaan kry vir als op sy vurk. Dan vertel hy die storie van sy ouer broer – sy mentor en sy inspirasie – saam met wie hy ’n klompie jare terug in Malmesbury gewerk het as lede van ’n hegte groepie kollegas. Die Bosbere is hulle genoem. “As die Bosbere werk op ’n naweek, dan kan ek slaap,” is hoe hulle bevelvoerder sy hoë dunk van hulle verwoord het. Dit bly hom tot vandag toe by as hy sy blou uniform aantrek.

* Hierdie berig is oorspronklik in 2014 geskryf.

• Het jy ’n lekker plaaslike storie wat jy wil vertel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (1 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Vroue uit die 50s
Vroue: Drink jul pille, smile en maak die kos

Sal jy jouself só in die koerant wil sien? Dié advertensies en foto’s het die Worcester Standard so 50 jaar...

Close