Breaking News

No breaking news at this time

Heidi help duisende kindertjies grootmaak

Daar’s ’n lang ry bont pleisters teen die rand van ’n kassie vasgesit – gereed om net afgehaal en geplak te word op die plekke waar sr. Heidi Jonker sagte bobeentjies en -armpies ingespuit het.

Daar’s ook ’n bottel vol stokkielekkers wat gebruik word om mondjies wat skreeu met iets anders besig te kry as die naald weg is maar die eina nog sit.

Die afspraakboek om honderde kleingoed se immunisasieskedules tot op 6 jaar by te hou lyk ingewikkeld, maar foutloos bestuur.

Saans word die kliniek ’n klaskamer waar opgewonde vrouens met ronde magies saam met hul breëbors-mans voorberei word vir die lewe ná die kraamsaal.

Vrydae word weer boksies vol kaartjies met babas se weeg- en dieet-inligting uitgehaal om elke besoekertjie se nuutste gewig en eetgewoontes sorgvuldig aan te teken. Tussendeur kry ma’s en pa’s antwoorde op belangrike vrae soos tande kry, slaaploosheid en ander olikhede.

Daar’s ’n lang ry mammas, pappas en oumas met kindertjies in drawiegies en op skote wat nog wag om gehelp te word. Party oggende lag en gesels dit soos die jong mammas oor en weer opvang. Ander oggende is dit die ene huilende babatjies.

Aan die einde van elke week het omtrent 150 kleingoed, en die ouers van so 30 wat nog moet kom, ’n beurt by sr. Heidi se werkstasie gehad. Party is geweeg en gemeet, ander moes sluk of stilsit vir ’n spuit; die grootmense luister en iets leer. Maar elkeen het vir ’n kort rukkie Suster Heidi se onverdeelde aandag gehad.

Dis dié onverdeelde aandag en oneindige kennis, geduld, wyse raad en omgee – enige tyd van die dag of nag – wat van Heidi ’n legende gemaak het. Vra haas enige jong privaathospitaal-ma in Worcester en sy vertel sonder skroom hoe Heidi gehelp het om die kinders groot te kry. En dat daar te min woorde is om te beskryf presies hoe wonderlik sy is.

Vra Heidi, en sy doen maar net waarvoor sy ’n passie het.

Wat is jou amptelike posbeskrywing?

Professionele verpleegkundige by die Mediclinic Baby-program en kliniekdienste.

As jy vir sr. Heidi ’n meer beskrywende postitel kan gee?

Mamma van vele. Ons doen alles – immunisasies, weeg babas, ’n borsvoedingskliniek en voorgeboorteklasse. Daar is ook ’n groot emosionele deel, want ons gee baie raad en ondersteuning aan nuwe ma’s vir wie dit maar ’n emosionele tyd is. Ons hou baiekeer mamma se hand die eerste paar maande.

Hoe lank doen jy al die werk?

Dis nou agt jaar dat ons alles by die kliniek doen. Ek is al 22 jaar by die hospitaal, en verpleeg al 29 jaar.

Wat dink jy sal ander mense afskrik, wat vir jou nie eers saakmaak nie?

Niemand hou daarvan om kinders in te spuit nie. Maar ek weet dit is nodig, al is dit nie lekker om ’n kind eina te maak nie. Daar is ook soms ’n moeilike deel wanneer die mammas en pappas emosioneel is.

Wat is wel van die klein jakkalsies wat jou pla?

Daar is nie klein jakkalsies nie. Wat ander ouens sal irriteer, weet ek is deel van my werk. Ek kyk na die breë prentjie en sit my in ’n ander ou se skoene. Ja, daar is dae wat die kinders LEKKER huil. Maar huil is soos musiek; dis maar net die baba se manier van praat. So daar is nie ’n slegte deel nie.

Wat is die beste deel van jou werk?

Die verskriklike dankbaarheid wat mense betoon. Jy doen so ’n klein ou ietsie, maar hulle is werklik so dankbaar. Soms as die klassies verby is, kom elkeen, tot die pappas, dankie sê. Al is jy hoe moeg, dit gee jou ’n boost. Jy weet dit is die moeite werd!

Hoeveel ure werk jy per week?

Amptelik 42. (’n Kort gesprekkie en ’n grappie of twee, dan die finale antwoord: “Sê maar net amptelik 42.”)

Hoeveel van die “famous” middernagtelike oproepe kry jy van bekommerde mammas?

Nie so baie nie. Die meeste mense bel maar tot so tienuur of elfuur op die laatste. Dan is dit ook mense wat weet hoe laat ek gewoonlik gaan slaap. Jy kry van tyd tot tyd mense wat tweeuur of drieuur bel, maar as iemand daai tyd van die oggend bel weet jy dit is regtig nood.

Is daar babaverwante antwoorde wat jy nié ken nie?

As ek iets nie weet nie, bel ek ’n ginekoloog of pediater om raad te vra.

Wat doen jy as jou kliniek wemel van huilende babas?

Selfs op ’n rowwe oggend konsentreer ek net op die baba voor my. Maar meeste oggende is dit ’n vrolike affêre waar die ma’s saam kuier. Een ouma het nou die dag gesê dit is ’n happy place. Dis vir hulle lekker om hier te kom.

As jy moeg en keelvol raak?

My passie help dat ek nie uitgeput raak nie. Ek is mal oor my werk, en ek weet ek’s op die regte plek. Ja, elke ou het maar ’n af dag, maar ek probeer altyd positief kyk. As ek regtig moeg raak is my recharge ’n lekker vakansie (Heidi gaan een maal per jaar op ’n laaang bootreis). Nou moet jy weet hoe min raak ek regtig moeg. As ek uit die land gaan is ek gedwing om te rus. Ek gaan op geen sosiale netwerke nie, ek lees nie koerant nie. Dis dan nie belangrik nie. Ek dwing myself om af te skakel. As ek regtig wil kan ek ander tye ook my foon afsit, maar ek is te bang iemand soek my.

As jy ’n werklik raadop mamma of pappa teëkom?

Ek probeer altyd alleen-tyd maak om te praat. Dit gee hulle gerusstelling. As dit regtig ernstig is kan jy altyd die persoon verwys. Dis dan vir my lekker om te sien daar’s lig.

Is daar iets wat jy altyd van jou werk sal onthou?

Dit kom baie uit in die voorgeboorteklasse as ek sien hoe ouers ontluik en selfvertroue kry. Baiekeer sien jy ook hoe loop die trane, dan weet ek ek het ’n snaar geroer. Natuurlik ook die dankbaarheid. En elke geboorte waar ek by is. Dit bly ’n wonderwerk en baie spesiaal. Ek kan ook sien hoe die pa’s wat die klasse bywoon die ma’s en babas anders hanteer. Dis ongelooflik om te sien hoeveel selfvertroue die pa’s het.

As jy enige ander werk kon kies?

Dis die maklikste vraag! ’n Professionele reisiger!

Laastens – hoekom hou jy van wat jy doen?

Ek doen wat ek doen vir my liefde vir kinders, en omdat ek daarvan hou om mense te help. Ek ontvang nie graag nie; dit maak my ongemaklik, maar dis vir my baie maklik om te gee.

Het jy ’n lekker plaaslike storie wat jy wil vertel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles