Breaking News

No breaking news at this time

Hoe nege wyne ’n wynstreek moet verander

Wat kan nege Chenin Blanc-wyne vir ’n hele wynstreek beteken?

Hopelik dat die Breedekloof eendag twee, drie keer die hoeveelheid Chenin Blanc produseer as wat dit tans produseer. Ook dat wynmakers nuwe moontlikhede by die kultivar ontdek, en die Breedekloof se wyn verkoop kan word teen die pryse wat dit verdien, sê Attie Louw van die Opstal-landgoed in Slanghoek.

Attie is een van die dryfvere agter die Breedekloof Chenin Blanc Inisiatief, ’n projek waarin nege kelders in 2013 begin het om elk ’n klein hoeveelheid innoverende wyn te maak om as deel van ’n spesialel reeks van Chenin Blancs bemark te word. Die inisiatief is algemene kennis, maar wat beteken dit vir Valleiers?

Die groot effek van ’n klein bietjie wyn

“Die groot doel is om ’n bietjie van ’n spotlight op Breedekloof te sit en hierdie tipe wyne te gebruik om dit te doen,” sê Attie. “Jy praat met ’n klein gehoor maar dis daardie klein gehoor wat die opinievormers is – wynskrywers, sommeliers, beoordelaars…invloedryke mense in die bedryf wat regop sit om notisie te neem van die Breedekloof.”

En dit lyk of die kollig toe wel helder dié kant toe begin skyn het. Google die inisiatief en ’n lang lys verskyn: Stories oor die inisiatief, die individuele wynmakers, die wyne self. Dis blogs, wyntydskrifte, aanlyn wynwinkels en selfs die Sunday Times.

“Langtermyn wil ons graag hê die spotlight moet hier kom, maar ook dat ons ander Chenin Blancs, wat ons reeds goed doen en volgens my nogsteeds te goedkoop is, saamgetrek word. Daardie pull effect,” sê Attie.

Dat die wynmakers nuwe dinge oor die kultivar gaan leer is vir hom ’n groot pluspunt, maar hy sien meer voordele uit ’n sake-oogpunt. “Ek wil graag hê die goedkoper Chenin Blancs moet toeneem of hoër waarde ontsluit sowel as groter volumes van die die kultivar produseer as tans. So hierdie wyne maak naam en hulle maak stories en hulle maak geraas, en dit trek die ander saam; lig die waarde van die res.”

Meer oor die Chenin Blanc-inisiatief

Eers ’n nota: Die inisiatief se wynmakers het besluit om hulself te herdoop na Breedekloof Makers – Purveyors of Chenin Blanc (of watter kultivar ookal in die toekoms ’n nuwe projek kan raak). Dié nuwe handelsmerk word op 5 Augustus aan die wynwêreld bekend gestel.

Die projek het begin met nege wyne wat verlede jaar gemaak is. Vanjaar is dit tien en volgende jaar sal dit 13 wees. Elke wynmaker moet innoverende maniere gebruik om ’n klein hoeveelheid van die wyn te maak. Dit moet die unieke terroir uitdruk wat die Breekloof deur die jare so bekend gemaak het vir die hoëgehaltewyn wat die kultivar vir hulle oplewer.

Die afskop-reeks is gemaak deur Bergsig, Botha, Breëland, Deetlefs, Goudini, Lateganskop, Merwida, Opstal en uniWines. Om meer oor elk van die wyne te lees, klik hier.

’n Paar van hierdie wyne is nog beskikbaar vir die publiek, wat kan navraag doen by Breedekloof Wynvallei.

Waarom Chenin Blanc?

Die Breedekloof se grond is van die beste waarin die kultivar kan staan, en sy klimaat perfek vir die druiwe om in ryp te word. Diep spoelgrond met rivierklippies in, wingerde wat laat bot en druiwe wat rustig ryp word vir ’n heerlike vrugtigheid werk alles saam.

Volgens die Breedekloof Wynvallei produseer die streek reeds 21% van Suid-Afrika se Chenin Blanc-wyn uit 15% van die land se wingerde vir dié druifsoort. Chenin was dus (letterlik) die natuurlike keuse.

“Behalwe dat ons oortuig is dat daar goeie Chenin Blancs is, was dit ook die obvious keuse vir die boer. Die stokkies wat die meeste bestel word by die kwekerye is Chenin Blanc, Chenin Blanc, Chenin Blanc, Colombar en Sauvignon Blanc. Maar by verre Chenin Blanc, so dis ’n boer se kultivar ook.”

En natuurlik tel gewildheid ’n paar punte. “Chenin Blanc is ’n wyn sonder pretensie. Dis nie iets wat jy vreeslik onder jou neus hoef te swaai en te kyk na die kleur en proe wat jy alles in hom kan proe nie,” sê Attie. “Chenin Blanc is ’n allrounder, wat jy lekker kan drink, lekker mee kan kuier en lekker mee kan braai, maar hy kan ook lekker saam met kos gaan omdat sy suur ’n bietjie laer is. Chenin Blanc is ’n crowd pleaser in al die verskillende pryspunte waarin hy produseer word.”

• Wyne van die 2015-oesjaar sal na 5 Augustus beskikbaar wees. Mense wat meer oor die Chenin Blanc-inisiatief en sy wyne wil weet, kan Breedekloof se webwerf besoek.

Het jy ’n plaaslike storie wat jy wil vertel of wil lees? Klik hier om ‘n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Business, Out and About
kaleidoscope personnel
Seven things Kaleidoscope can do for YOU

There's way more to doing business with Kaleidoscope than browsing through the shop (Ons Winkel). Here's why: The era of...

Close