Breaking News

No breaking news at this time

CANSA Relay For Life: Ses vrae en antwoorde

Het jy geweet die sewende CANSA Relay For Life Worcester word in 15-16 Oktober gehou? (En Robertson se agste een die naweek daarna?) Het jy geweet enigiemand kan ’n span inskryf en dat almal wat deelneem sal help om kanker in ons eie area te beveg – terwyl ons hope pret het? Dis Worcester se eie mense wat saamstaan om iets prettig maar baie belangrik vir Worcester te doen.

Wat is CANSA Relay For Life Worcester?

Dit is ’n feestelike fondsinsamelings- en bewusmakingsprojek wat deur Worcesterse vrywilligers vir die Kankervereniging van Suid-Afrika gehou word. Dit het in Amerika ontstaan, wêreldwyd uitgebrei en word nou jaarliks in 45 dorpe in Suid-Afrika gehou.

Behalwe dat dit CANSA sal help om met kankernavorsing, -voorkoming en ondersteuning voort te gaan, is dit ook bedoel om almal in die streek te laat dink oor hoe húlle kan voorkom dat kanker aanhou om een uit elke vier mense in Suid-Afrika te raak.

Wie reël dit?

Dit word 100% vrywillig deur inwoners wat ernstig oor die stryd teen kanker is gereël. Daar is wel een CANSA-werknemer wat die vrywilligers bystaan, maar die res is almal mense wat saam met jou hier woon en werk.

Hoe werk CANSA Relay For Life?

Dit is ’n feestelike deurnagbyeenkoms wat Saterdag 15 Oktober by HTS Drostdy se sportterrein begin en tot die volgende oggend aanhou om te simboliseer dat kanker nooit slaap nie. Worcesteriete kom in spanne van 10 tot 15 mense om saam met kankeroorwinnaars die lewe te vier!

Daar is ’n aflosbaan waarrondom spanne tente en stalletjies kom opslaan. Na die opening en ’n ererondte deur kankeroorwinnaars om die baan, begin die pret. Regdeur die nag tot Sondagoggend moet daar altyd minstens een lid van elke span om die baan beweeg – julle kan stap, in waentjies ry, draf of watookal.

Terwyl julle beurte maak om om die baan te gaan, kan die ander spanlede kuier, aan die vermaak-aktiwiteite deelneem, pannekoek en koffie vir ’n ekstra geldjie verkoop of selfs ’n uiltjie knip. Alles groot pret.

Die pret sal egter vir een gewyde seremonie onderbreek word. Ná sononder word Luminaria-kerse reg rondom die baan aangesteek ter herinnering aan ons geliefdes wat die stryd teen kanker verloor het of steeds daarteen veg. Dan raak ons saam stil om aan hulle te dink, of om dankie te sê vir dié wat oorleef het. Dit is ’n aangrypende hoogtepunt voor die deurnag-feestelikhede voortgaan.

Wat gebeur vóór CANSA Relay For Life Worcester?

Spanne kan solank wegspring om op oorspronklike en prettige maniere ekstra geld in te samel. Spanne wat R5 000 kan insamel kry ’n bronstoekenning, silwer vir R10 000 en goud vir R25 000. Daar is natuurlik baie spantoekennings op die spel.

Waarom word CANSA Relay For Life gehou?

Dit help CANSA om sy baie belangrike werk te doen – om kanker uit te roei. Dit help om geld bymekaar te maak vir CANSA se navorsings-, bewusmakings- en ondersteuningsdienste, maar is ook ’n geleentheid waartydens spanne meer leer oor hoe LEEFSTYLVERANDERINGE kanker kan help voorkom en lewens kan red. Omdat kanker een uit elke vier mense in Suid-Afrika raak, kan ons hulp dus ’n baie groot impak maak!

Hoe kan jy inskryf?

As jy en jou span (10 tot 15 mense) graag wil deel wees van die poging vir Worcester, gaan na Cansa se kantoor op die hoek van Fairbairn- en Durbanstraat waar personeel al die nodige inligting vir jou sal gee en jou help om in te skryf. Die registrasiegeld is R500 per span. Jy kan ook vir Christa Claassen by 023 342 7058 of Elsa Everson by  082 774 7322 bel.

Lees hier meer oor CANSA Relay For Life.

Het jy ’n lekker plaaslike storie wat jy wil vertel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Community, Helpful Hints
Voting municipal elections
First-time voter? Here’s what to expect

A handy fact sheet from the Electoral Commission (IEC), so what happens at the voting stations on 3 August (from...

Close