Breaking News

No breaking news at this time

Kaleidoskoop in ’n neutedop

Gedink jy ken Kaleidoskoop omdat jy in Worcester woon? ’n Toer (en nog een en nog een) deur die reusagtige terrein is gewaarborg om jou dinge te leer wat jy nie voorheen geweet het nie.

Die instituut in ’n neutedop

• Kaleidoskoop het meer as 500 mense onder sy sambreel:

90 inwoners met meervoudige gestremdhede wat nie in die nywerhede kan werk nie. Van die inwoners werk in die kreatiewe afdeling waar kleiner handgemaakte items vervaardig word. Takies word baie presies uitgedeel volgens elke inwoner se spesifieke vermoëns. Die ander inwoners kry bedags persoonlike, terapeutiese sorg terwyl hulle bygestaan word om so onafhanklik moontlik te funksioneer.

90 inwoners in die aftree-eenheid Huis Brevis. Dit is ’n volwaardige ouetehuis vir begunstigdes van Kaleidoskoop.

110 kinders in die Pionierskool. Hoewel die Pionierskool ’n departementele skool is wat die normale skoolkurrikulum volg, is Kaleidoskoop ’n fondsliggaam vir die skool.  Die skool het natuurlik kleiner klasse en spesiale hulpbronne vir siggestremde leerders.

240 mense wat in die beskutte nywerheidseenhede werk.

Die nywerhede

Die rottangafdeling gebruik alles van rottang uit Singapoer en Indonesië tot plaaslike piesangblaar, seebamboes, koeboe en waterhiasinte. Produkte is so uiteenlopend soos dekoratiewe voëlnessies, troeteldiermandjies en wasgoedmandjies tot volledige stelle meubels wat by luukse dekor-ekspo’s soos soetkoek verkoop.

Die produksielyn by die metaalafdeling lewer gespesialiseerde metaalprodukte vir onder meer die landboubedryf en swaarvoertuigsektor en ander uiteenlopende kliënte wat metaalparte gebruik. Daar is ook dekoratiewe metaalprodukte vir die tuin, huis of onthaalsaal.

Piekniekbanke, bababeddens, laaikaste en kratte…alles baie modieus en alles deur die kreatiewe mense van die houtwerkafdeling gemaak. Selfs houtkratjies vir vier vlytbiere is nie te veel gevra nie.

Die matrasafdeling het geen bekendstelling nodig nie – veermatrasse en sponsmatrasse vir enige grootte bed, en selfs spesiale versoeke vir individuele kliënte sien die lig.

In die afdeling vir kreatiewe projekte vervaardig die span mode-krale, armbandjies, houtborde, deurworse en ander klein maar gesogte dinge wat uitrustings en huise moet versier. Meervoudig gestremde inwoners se spesiale vaardighede word uitstekend aangewend om in dié afdeling te help. Ook die Blindiana Blend-koffie word onder dié afdeling verpak.

In die weef-afdeling word matte van allerhande groottes en kleure vervaardig. Ook hier kan kliënte produkte op bestelling aanvra.

Van Kaleidoskoop na kliënt

Gewone, besige inwoners kan vining inloer by Ons Winkel in Kerkstraat. Die verrassings (en kooplus) is volop.

The Wool Spot net langsaan behoort die eerste keuse te wees van elke Worcesteriet wat ’n brei- of hekelprojek wil aanpak.

Valleiers kan The Blind Spot gebruik vir konferensies vir tot 50 mense (teaterstyl; 30 indien konferensiestyl). Lugreëling, goeie tegnologie en toerusting en wi-fi is beskikbaar, asook veilige parkering.

Die inligtingsentrum met sy George van Heerden-fossielroete en Eddie van Dijk-geologieuitstalling bied enige blinde (en siende!) besoeker die geleentheid om die items op uitstalling teen hul eie pas op te tel en te leer ken.

By die i-Art Gallery word kunswerke van blinde inwoners (wat klasse by Ryno Eksteen kry) uitgestal en verkoop, maar ander plaaslike kunstenaars gebruik dit ook as uitstalruimte vir hul kuns.

Die goeie nuus is dat Blindiana Barista op 1 September weer sy deure open, waar inwoners nie net iets te ete of drinke kan geniet nie, maar ook die museum met allerhande interessanthede uit die verlede kan sien.

Opleiding

• Afgesien van al die dienste aan hul eie inwoners, verskaf Kaleidoskoop ook oriënteringsdienste en opleiding aan mense wat later in hul lewe hul sig verloor het. Die mikpunt is om mense te help om onafhanklik te funksioneer.

Oriëntering (om sonder jou sig te kan rondbeweeg) is een belangrike been van die opleiding, maar ook alternatiewe kommunikasievaardighede en die gebruik van gespesialiseerde tegnologie vir siggestremdes.

Die mees onlangse toevoeging tot die opleidingsportefeulje is ’n tegnologie-opleidingsentrum waar siggestremdes op Apple-produkte opgelei word om die heel nuutste inligtingstegnologie te gebruik.

Net so terloops

• Die Pionierdrukkery is ’n afsonderlike niewinsgewende organisasie wat nouliks met die Pionierskool en Kaleidoskoop saamwerk.

Vir meer inligting oor Kaleidoskoop, ’n besoek of hoe om die organisasie te ondersteun, besoek gerus hul webwerf.

 Het jy plaaslike inligting wat jy wil deel of wil lees, klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Business, Community
olive oil facts willow creek
Virgin vs Refined…and other facts on olive oil

You know olive oil contains the healthy kind of fat. You know it’s popular enough to fill a good lot...

Close