Breaking News

No breaking news at this time

Die pediater wat ’n wynroete ‘begin’ het

’n Mediese dokter van Worcester was aan die voorpunt van ’n klein wynrevolusie wat sedert die laat 1990’s in Stanford plaasgevind het. Dr. Theodore (Ficky) de Villiers het die eerste wingerd op sy grond in 1998 geplant – baie jare voor genoeg wyn in dié dorp gemaak is om ’n wynroete te begin.

Dit was toe nog ’n area wat hoofsaaklik op skaap- en koringboerdery gefokus het (die wyn wat vroeërjare op die De Villiers-familieplaas gemaak is was vaaljapie; Sir Robert Stanford Estate se wingerde is in 1935 uitgehaal en eers in die nuwe millennium weer gevestig). Kelders soos Raka, Stanford Hills en Walkerbay Vineyards het sedertdien in dr. De Villiers se voetspore gevolg en ’n Stanford-wynroete is verlede jaar met agt lede in die lewe geroep.

Boschrivier Wines

Dr. De Villiers, bekende pediater in Worcester wat in die Overberg grootgeword het, vertel hy het die grond waarop die Boschrivier-wyne gemaak word by sy pa geërf. Dit is twee plase, Boschkloof en Remhoogte, wat aan die De Villiers-familieplaas (Doornkraal) gegrens het en wat sy pa in die 1960’s gekoop het.

Shiraz is wat vir Boschrivier naam gemaak het. Die Boschrivier Shiraz het tot dusver 4½ Platter-sterre in twee oesjare (2003 en 2005) gekry, en 4 Platter-sterre in vyf oesjare (2004, 2006, 2007, 2008 en 2011). Die Shiraz 2003 het ook ’n tweede plek in die Wine Magazine Shiraz Challenge gekry en die Shiraz 2004 ’n plek op die toptien. Daar is nog ’n klompie toekennings op die lys.

“Ons het maar geplant en toe’t ek maar vir my ’n kelder gesoek en ’n wynmaker. Ek kan mos nou nie self wyn – goeie wyn – maak nie. En ek het toe by goeie ouens beland,” sê hy.

Wyn-legende

“Goeie ouens” beteken eintlik van die beste. Dr. De Villiers het Mike Dobrovic as konsulterende wynmaker betrek. Dobrovic word erken as die man wat oor ’n tydperk van 20 jaar Mulderbosch buite Stellenbosch se reputasie gebou het. Dié reputasie was sterk genoeg dat die Kaliforniese wynbelegger Charles Banks se maatskappy Terroir Capital dit in 2011 gekoop het (Dobrovic het Mulderbosch in 2009 verlaat).

“Ons het nogal bekend geraak vir die rooiwyn,” sê dr. De Villiers. Sy druiwe is ook gesog onder wynmakers wat duur uitvoerwyne maak. Die wynverkope is goed, die voete na die plaas is heelwat, en hulle kom vir een rede: hulle wéét hulle wil Boschrivier-wyn hê.

Groei en vooruitgang

Boschrivier het in 2013 nog drie wyne by sy portefeulje gevoeg: Sauvignon Blanc, Cabernet Sauvignon en Rosé. Die plaashuis op Boschkloof is in gaste-akkommodasie omskep en die volgende projek is die restaurant.

“Op die ou end het ons nou wyn, en proelokale langs die pad. En nou’t ons meer as een wyn. Ag jy weet mos hoe gaan dit,” sê hy, so asof hy al óm sy eie aandeel in ’n suksesvolle wynhandelsmerk wil praat. “Ek het ’n bestuurdertjie daar, iemand wat die wingerdbou doen, iemand wat die wyn doen, die proelokaal handle. Ek bestuur maar net alles.”

Die plaas sien hom gereeld. “Ons is darem nou vier pediaters (in Worcester) so ek het drie naweke ’n maand tot my beskikking. Jy leer baie ván wyn as jy so betrokke is. Daar is baie diepte in wyn. Om ’n goeie wyn te maak is mos eintlik maar ’n kuns.”

Alles het nie oornag gebeur nie, sê hy (“ons kom darem nou al van 1998 af”), en weer eens so al óm die woord sukses: “Ek dink dit gaan goed.”

Klik hier vir meer inligting oor Boschrivier Wines, of om dit aanlyn te bestel.

Is daar ’n plaaslike storie wat jy graag wil vertel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (2 votes, average: 3.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Business, Community
cansa relay for life
Hoekom Relay ons? ’n Beroep op Worcester

’n Brief uit die hart van ’n komiteelid, wat verduidelik hoekom CANSA Relay For Life vir duisende so betekenisvol is:...

Close