Breaking News

No breaking news at this time

Opgetower uit sente en sentimeters

Vindingrykheid kry ’n nuwe betekenis in die gange van ’n organisasie soos Kaleidoskoop. Geen sent of sentimeter word gemors nie. Elke versoek van ’n Worcesteriet wat iets spesiaals gemaak wil hê word oorweeg, en elke verhouding word opgepas.

Alles kan gebruik word

Sylvia Ungerer is in beheer van kreatiewe projekte by Kaleidoskoop (voorheen die Instituut vir Blindes). In die een hoek van hul werklokaal staan bokse vol afval-houtblokkies wat sy uit die houtwerkafdeling gered het. Daar is ou houtrame, wasgoedpennetjies en wie weet wat nog. Alles kan nog handig te pas kom.

Afvalstukke T-hempmateriaal wat aan hulle geskenk is word eers gebruik om dekoratiewe items mee te brei of te hekel. Die afvalstukkies hiervan word nog ’n keer hergebruik – as vulsel vir die deurworse wat nogal goed verkoop.

Selfs die deurworse het ’n storie – die duursame mooi lap in die middel kom uit die materiaalmonsters van ’n binnenshuise versierder wat dit nie meer gebruik nie.

Nuwe idees vir weggooigoed

Dit is Sylvia se taak om tred te hou met die nuutste mode- en dekortendense, want om produkte te verkoop moet daar ’n mark wees. Party produkte verkoop heelwat beter as ander, en dan sorg Sylvia dat hulle die aanvraag-golf ry terwyl hy daar is. Hulle probeer ook so ver hulle kan elke kliënt se versoek oorweeg.

Daar is ongelukkig ook beperkinge op wat hulle kan doen. “Dit moet wees in mates wat ons (inwoners) kan afmeet en getalle wat ons kan tel,” sê sy. Die vaardighede wat nodig is om dit te maak, moet ook onder die groepie Ebenhaezers beskikbaar wees.

Nog ’n kuns is om die beskikbare materiaal en die modegiere bymekaar te bring, want geld om produk mee aan te koop is daar nie. “Ek sal báie moeilik iets gaan koop,” sê Sylvia. “Ons probeer so ver moontlik met niks regkom.”

Kaleidoskoop resourcefulness
Stukkies afval-hout wat later gebruik kan word, houtborde wat opgekikker en verkoop word, en deurworse wat met duursame lap afgerond word.

Elke taak het ’n pasmaat

Die 45 mense in die kreatiewe afdeling is almal inwoners van Huis Ebenhaezer, die tehuis vir mense met meervoudige gestremdhede. Elkeen kry ’n baie spesifieke taak afhangend van hul vermoë en vaardigheid. Iemand knip, iemand anders ryg, ’n ander een knoop toutjies. “Die uitdaging is, die oomblik as ons die skills aangeleer het, dan verander die trend,” sê Sylvia terloops.

’n Gemeenskap raak betrokke by Kaleidoskoop

Skenkings van allerhande bruikbare items is nie die enigste steun vanuit die gemeenskap nie. Kaleidoskoop is eintlik deel van ’n interessante plaaslike netwerk.

Aan die een kant maak al meer instansies van hul vervaardigingsdienste gebruik (soos Nuy…on the hill wat hul opdien-houtborde daar bestel het en Laerskool Worcester-Oos vir wie Kaleidoskoop Beesloop-armbandjies gemaak het). “Die besighede ondersteun ons en die woord versprei,” sê Sylvia.

Aan die ander kant kan Kaleidoskoop ook iets biéd. Hulle beplan byvoorbeeld om ’n deel van hul nuwe wynprojek se inligtingsetikette aan Breedevallei APD uit te kontrakteer. Massas afval-kartonvormpies uit nuut vervaardigde kartondose word ook soort-by-soort gesorteer om aan kleuterskole uit te deel vir hul skeppende klassies (sien die hooffoto by dié artikel).

Individue kan verder daagliks met Kaleidoskoop sake doen. Lees hier oor wat jy kan bestel en koop.

Mense wat kaste leegpak en ou items wil skenk, kan 023 347 2745 bel of e-pos stuur na info@kaleidoscopesa.org.

Kaleidoskoop resourcefulness
Gereedskap word aangepas sodat siggestremde mense daarmee kan werk: ’n maatband met ringetjies om te voel, en ’n houtstokkie wat die lengte van die armbandjies aandui.

Het jy ’n plaaslike storie wat jy wil vertel of lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Community
wyn boschrivier wines pediater dr. de villiers
Die pediater wat ’n wynroete ‘begin’ het

’n Mediese dokter van Worcester was aan die voorpunt van ’n klein wynrevolusie wat sedert die laat 1990’s in Stanford plaasgevind...

Close