Breaking News

No breaking news at this time

PPA belowe nóg fietse aan Lewensruimte

’n Dankies-sê-funksie by die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) was so ’n vreugdevolle affêre dat die uitvoerende hoof van die Pedal Power Association (PPA) belowe het om nog ’n skenking te maak.

Robert Vogel was Dinsdag 26 Julie by die NID se Lewensruimte, waar inwoners en personeel hom bedank het vir ’n skenking van sowat R50 000. Dit het die herbouing van vyf fietse, wat in driewielfietse omskep is, moontlik gemaak sodat inwoners met meervoudige gestremdhede daarop kan ry.

Verskeie personeellede het gesê dat die inwoners se gesigte die ene vreugde is as hulle op hul fietse ry, maar dit was amper nie nodig om dit te sê nie. Hoewel hulle die fietse twee weke voor die funksie reeds ontvang het, was hulle vir die duur van die funksie die ene opgewondenheid. Selfs om net op die fietse te sit vir ’n fotosessie, het hulle uitbundigheid ’n kerfie opgestoot.

Nadat ’n kaartjie aan Vogel oorhandig is – wat elke inwoner op haar eie manier onderteken het – het hy ’n spreekbeurt gevra. Hy het gesê hy ervaar self hoe waardevol fietsry vir ’n mens kan wees, en sal werk aan ’n verdere skenking. “Ek sien ’n groot groep van julle en ek sien net vyf fietse,” het hy aan die groepie gesê.

“Ek sien die waarde daarvan,” het hy na die tyd oor sy belofte gesê. “Jy kan nooit genoeg befondsing doen nie, maar waar jy dit effektief doen, maak dit ’n verskil, soos hier. Ons gaan kyk om vir elkeen (van die inwoners wat die fietse gebruik) ’n fiets te kry.”

PPA is die verteenwoordigende fietsryliggaam wat van die grootste fietsrybyeenkomste in die land organiseer en administreer. Hul doel is om fietsry as sport en ontspanningsaktiwiteit, asook die belange van fietsryers, te bevorder.

PPA het die skenking gemaak nadat die NID hulle genader het. ’n Onderwyser by die De la Batskool, Koos Engelbrecht, het die fietse herbou. Engelbrecht is aktief betrokke by sport vir mense met gestremdhede en is tans visepresident van die SA sportvereniging vir mense met fisiese gestremdhede (SASAPD). Hy was in 2000 ook die bestuurder van die SA fietsryspan na die Paralimpiese Spele in Sydney, Australië.

NID PPA fietse2
Die splinternuwe fietse en valhelms is deur PPA geskenk.
NID PPA fietse3
Inwoners was uitbundig tydens die dankie-sê-funksie.
NID PPA fietse4
’n Fotosessie op die fietse is na die tyd saam met Robert Vogel van PPA gehou.

 

Om meer oor PPA te lees, klik hier.

Om meer oor Lewensruimte te lees, klik hier.

Het jy plaaslike nuus wat jy graag wil vertel? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (3 votes, average: 4.67 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
kaleidoskoop kreatief
Opgetower uit sente en sentimeters

Vindingrykheid kry ’n nuwe betekenis in die gange van ’n organisasie soos Kaleidoskoop. Geen sent of sentimeter word gemors nie....

Close