Breaking News

No breaking news at this time

Antoinette Steyn: ’n Termyn wat was en een wat nog moet kom

Wanneer stembusse Woensdagaand 19:00 sluit, sal ’n paar uur van spanning vir Antoinette Steyn voorlê totdat verkiesingsuitslae gefinaliseer is. Sal sy weer net ’n gewone raadslid wees, of sal sy die eerste burger van die Breedevallei bly?

Want sy het planne, sê sy. Haar (gedeeltelike) burgemeesterstermyn was nie aldag maklik nie en daar is so baie wat sy nog wil regkry.

Antoinette sê sy dink die DA het die verrassing van hulle lewe gekry toe hulle vyf jaar gelede beheer oor die raad gekry het. “Baie mense weet dit nie. Dit het geweldig baie gekos om te verstaan hoe dit werk; om uit die rooi van die finansiële kant te kom.

“Ek sê vir jou daar is baie foute nog, en daar is baie dinge wat ons nie by kon uitkom nie as gevolg van die finansiële kant, of as gevolg van die werklikheid in die gesig staar dat dit nie net in ’n jaar of twee jaar verander kan word nie.

“Ons het probeer, en daar’s nog so baie wat ons wil doen. Ek wil so graag my eie termyn hê dat ek kan doen wat ek wil doen. Ek wil my eie vyfjaarplan op die tafel sit.” Antoinette het in 2014 burgemeester geword toe Basil Kivedo provinsiale parlement toe is.

Kritiek

Antoinette is nie bang om te sê daar was kritiek nie. “Ek het destyds baie lekker gelag met die artikel toe die outjie van Die Burger hier by my was, en ek sê vir hom jy moenie die foto neem met my rooi hare nie, want die ouer ooms en tannies gaan dink watse burgemeester het ’n rooi kuif.”

Antoinette was 38. “Die gemeenskap daarbuite se vraag was sal ek dit kan bestuur? Sal ek die mayco kan bestuur? Sal ek die dorp kan bestuur. Sal ek die mense bymekaar kan hou?”

Sy glo dit was meestal ouer mense, en vandag hoef daar nie meer twyfel te wees nie.

Wat sien jou party in jou as burgemeesterskandidaat?

Antoinette glo sy het deur en deur bewys sy is ’n spanspeler en werk nie vir “die eie ek” nie. Sy is baie betrokke in die gemeenskap, onderburgemeester John Levendal het haar ten volle ondersteun en hulle het mekaar uitstekend aangevul. Soveel so dat daar nie vir dié verkiesing juis baie aansoeke was van potensiële burgemeesterskandidate nie.

“In die twee jaar het ek baie gegroei. Ek het baie geleer. Met my tweede onderhoud (die onderhoud voor die DA haar vir die tweede keer as burgemeesterskandidaat gekies het) was daar nie eers twyfel nie.”

’n Burgemeester ervaar seker baie druk?

“Ek bid baie en besef Here, U weet wat vandag oor my pad gaan kom. Ek kan dit hanteer of ek kan dit nie hanteer nie, maar as U by my is, dan kan ek dit hanteer.

“Ek het al geleer in die politieke veld, met al die stampe en stote, om rustig te raak. Dis lekker om huis toe te gaan en rustig te raak en klaar te huil en emosioneel te raak, want ek wil nie hê mense moet hier binne sien wat my swakpunte is nie.”

Vir Breedevalleiers wat die media dophou of Facebook gebruik kan dit maklik lyk of Antoinette nie rus nie – sy  is op foto ná foto wat by funksies en seremonies geneem word. Haar man, Koos, is self in die politiek en weet presies wat haar werk behels en hoe om haar te ondersteun, vertel sy.

“My dogter is ook derdejaar onderwys, so ons het nie kinders in die huis nie. Miskien maak dit dit vir my makliker om orals te wees. Party dae jaag ek my dood. Maar dis vir my lekker; ek geniet dit regtig baie.”

Sterkpunte en hoogtepunte

Die burgemeester glo haar vermoë om rustig te raak is een van haar sterkpunte. “Ek weet hoe om druk te hanteer. Baie dae as mense voel om die pad aan die brand te steek, weet ek hoe om ’n bietjie meer kalmte te bring na ’n situasie toe.

“My omgee sal mense altyd onthou. Ek hou daarvan om te luister en ek hou daarvan om my opinie te gee. Ek dink wat uitstaan is dat ek nie oordeel nie, en my deur is oop.”

Wat die munisipaliteit in haar termyn reggekry het, vertel sy, is goeie infrastruktuur, EPWP-werkskeppingsprojekte, die aanlynportaal Jobs4U wat die vorige munisipale bestuurder begin het. “Dit het baie jongmense gehelp.

“Dienste word gelewer: vullis word verwyder, die strate is skoon, ons paaie is in ’n goeie toestand. Die lig in sommige areas is skerper.” Sy sê ja, daar is haakplekke en pype wat lek en mense wat bel, maar die munisipaliteit maak werk van dit wat die gemeenskap vereis.

So wat is in die vyfjaarplan?

“Infrastruktuur in ons dorp, besighede wat intrek, toerisme,” sê Antoinette. “As ons mense kan kry om in te koop om fabrieke te kan begin en ons met werkloosheid te kan help.

“Een van my groot projekte sal wees hoe kan ons hande vat om ons behuisingsnood bietjie minder te maak en die omstandighded van ons mense wat hier woon beter te maak,” sêj sy. Die ontwikkeling by Klipvlakte maak haar opgewonde; ook om grond beskikbaar te stel vir die ontwikkeling van woonstelblokke en GAP-tipe huise, en vir individue wat hul eie plekkie wil bou. “En ons huureenhede. Ek wil by die minister geld vra vir opgradering daar, binne en buite.

“In al ons dorpe is daar baie ontwikkeling en opgradering wat ons nog moet doen. Ons het baie netjies maak wat ons nog moet doen. Ons het hierdie RSEP-projek waar provinsie vir ons geld gee om in ’n woonbuurgt ’n projek aan te pak. Die groot uitdaging in Zwelethemba is ’n tweede ingang. Hulle kort ook ’n swembad.”

Sy noem nog ’n hele paar: om die dorp meer toeganklik te maak vir mense met gestremdhede, die voortsit van bystand aan die polisie in die beveiliging van die dorp; die beursfonds vir jong uitblinkers en hulpfonds vir liefdadigheidsorganisasies – omdat sy ’n hart het vir mense wat regtig swaarkry; om verskillende kulture bymekaar te hou; om skoonmaakprojekte in die middedorp na woonbuurte uit te brei; om rondloperdiere effektief te kontroleer; om die styging in tariewe so laag moontlik te probeer hou.

Op die ou end, sê sy, het haar party in haar raakgesien dat sy ’n begrip het van dié verstand-dinge, maar ook hartsdinge. “Die lekkerste van alles is om betrokke te wees in die gemeenskap. As jy weet hoeveel bemoediging ek kry op die WhatsApp-groepe vanuit ons gemeenskap…dis eintlik hulle wat my sterk hou.”

Meer oor Antoinette Steyn

Antoinette het in Touwsrivier grootgeword waar haar pa op die spoorweë gewerk het. Sy het ná die skoolbanke van Laerskool Touwsrivier besluit om Handelskool toe te kom en haar laaste twee skooljare in die nuut gevormde Worcester Gimnasium klaargemaak.

Toe haar pa in 1993 afgetree het, het hy sy pakket gebruik om ’n paar besighede te koop, en Antoinette kon ’n gebou in Montagu in ’n vermaaksentrum vir jongmense omskep. “’n Hele sentrum met skaak en vingerbord en snoeker en pool en TV games. Ek het ’n hele gedeelte gehad met strokieskarakters vir die jonger kinders en ’n ander gedeelte vir die oueres. En dan nog ’n gedeelte vir die grootmense wat in die aande net bietjie wou kom ontspan.”

Ná haar pa se dood het sy op 1 Janurie 2000 besluit sy roep halt in Montagu en kom terug Worcester toe. En so het haar politieke loopbaan op 1 Maart daardie jaar begin toe sy as sekretaresse in die DA-kantoor begin werk het.

“Daarvandaan het ek my opgewerk,” vertel sy. In 2006 het sy die eerste keer ’n setel as proporsionele raadslid in die Breedevallei gekry. In 2011 het sy speaker geword en in 2014 uitvoerende burgemeester toe Basil Kivedo provinsiale parlement toe is.

Sy is tans burgemeesterskandidaat vir die DA, wat beteken sy sal weer in die amp wees mits die party vandeesweek die munisipale verkiesing wen.

Het jy ’n plaaslike storie wat jy graag wil vertel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (3 votes, average: 2.67 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Nik Wullschleger BO
Wullschleger: Why I chose politics and the BO

Why would a business leader decide to go into politics? How would he decide which party to join? On the...

Close