Breaking News

No breaking news at this time

Die dominee, die romanskrywer en die diere

’n Dominee wat rugby afrig en ’n romanskrywer-entrepreneur klink na ’n vreemde kombinasie. Tog het twee Worcesteriete met uiteenlopende talente suksesvol saamgespan om ’n lekkerluister-CD vir kinders te maak.

Ds. Stefaans Burden van die NG gemeente Worcester-Vallei en tannie Nanda Pauw, ’n gemeentelid, vertel dat die proses om tannie Nanda se gediggies in volwaardige lekkerluister liedjies vir hul CD, Diere se Plesiere, te omskep, seepglad verloop het. Hulle het einde November verlede jaar met die gedagte begin speel nadat hulle toevallig by hul Bybelstudiegroep se afsluiting daaroor gepraat het. Agt maande later is die besending CD’s in Worcester, reg om verkoop te word.

’n Seepgladde proses

“Ons het net van die begin af gevoel die handskoen het gepas. As Stefaans ’n gedagte het dan is my gedagte dieselfde,” sê tannie Nanda, wat in haar lewe al byna 30 boeke (insluitend ’n klompie Afrikaanse romans) geskryf het. Toe Stefaans met die eerste toonsetting na haar toe teruggekom het, was sy dadelik oortuig hulle is op die regte spoor – “van die eerste oomblik wat die eerste noot gespeel het.”

Van daar af was dit nie te moeilik om alles bymekaar te kry nie. Dit het Stefaans drie weke geneem om die gedigte te toonset. In die studio het hy al 13 snitte in een dag deurgesing.

Helmut Meijer, ’n bekende musikant, komponis en vervaardiger in die musiekbedryf, het die projek gelei. Konstand Spies van Lollos faam het die vervaardiging en opnames hanteer, vrolike dansritmes en lekker baie dieregeluide bygevoeg. “Ons het baie lekker met hulle saamgewerk,” sê Stefaans.

Minki Burger, ook van Lollos, het as gaskunstenaar in een van die liedjies gesing. ’n Paar Valleiers het ook hand bygesit. Rachie Müller, grafiese ontwerper by Overhex Wines, het die illustrasies vir die omslag gedoen en Ulrich Pool van Pool Transport het gereël dat die besending CD’s, wat in Johannesburg gesny en verpak is, Worcester toe kom.

Die dominee en die romanskrywer

Stefaans is lankal onder gemeentelede bekend vir sy sang en eie komposisies. Op Pad (2010), Om U te Sien (2012) en Genade in ’n Skoenboks (2015) is sy vorige drie albums. Diere se Plesiere, ’n heel onbekende genre as die geestelike ballades waaraan hy gewoond is, was vir hom soos ’n nuwe wêreld, en een wat hy geniet het.
Hy is vol lof vir sy kollega se talent, wat hom so geïnspireer het dat hy self vier liedjies vir die CD geskryf het.

“Tannie Nanda se skryfwerk is baie ritmies, wat dit makliker gemaak het, want die woorde en melodie moet by mekaar uitkom.” Die Afrikaans is ook suiwer en mooi, en bevat talle ou uitdrukkings wat wil-wil vergete raak onder jong Afrikaanssprekendes, soos op die laaste snit van die CD:

Baie vrae!

Waarom is dit ’n haan
wat op die kerktoring staan?
Waarom is ’n donkie wat spring
dan so ’n wonderlike ding?
Wie skrik nog vir koue pampoen?
Net die ouvrou wat woon in haar eie groot skoen!
Wanneer laas het jy vir ’n wit perd geskrik?
“Dink man, dan sal jy gou ophou met hik!”
Blaas dan die vratjie weg na die goue volmaan.
Miskien sal jy dan al die dinge verstaan.

In die verre verlede

Tannie Nanda, wat al ’n halfeeu in Worcester woon, sê sy het haar hele lewe lank geskryf, selfs op skool ’n artikel gedoen waarvoor Die Burger hulle haar nou nog ’n halfkroon skuld.

In die Paarl het sy tale studeer en in Gansbaai en ander klein plekkies skoolgegee. Op ’n dag het haar seun, Kobus, gesê sy moet haar hand waag aan Afrikaanse romans, en byna ’n dekade van boeke skryf het begin. “Hy het net gedink ek sal dit kan doen. Ek het seker tien of elf jaar nie gemeng met mense nie,” sê sy en verduidelik dat die navorsing vir ’n historiese roman intensief is.

Na sy besluit het boeke skryf is nie meer lonend nie, het sy saam met haar man, oom Koos, Watkins-produkte verkoop, wat vandag nog brood op die tafel sit. Die gedigte is iets wat sy maar tussendeur skryf. “Ek word een oggend wakker dan sit hulle almal daar.”

Stefaans, wat van 1997 in Worcester is, maak al van laerskooldae af musiek en leef dié passie uit in die kerk se sanggroep, sy eie komposisies en optredes. Hy het egter ook ’n passie vir rugby. Hy rig o.14’s af by HTS Drostdy en op dié manier kan hy twee wêrlede kombineer.

Diere se Plesiere het hom uit sy gemaksone gehaal, sê hy, maar hy is bly hy kon ook vir tannie Nanda help om haar werk vir ander te wys.

Die CD bevat ’n ballade en 12 vrolike snitte waarop jong kinders heerlik sal kan dans en saamsing.
CD’s kos R100 en is by die Worcester-Vallei-kerkkantoor beskikbaar. Mense kan ook vir tannie Nanda Pauw by 023 347 2541 bel, of ds. Stefaans Burden by 023 347 1206 of 082 564 9478.

Het jy ’n lekker plaaslike storie wat jy wili vertel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Antoinette Steyn verkiesing 2016
Antoinette Steyn: ’n Termyn wat was en een wat nog moet kom

Wanneer stembusse Woensdagaand 19:00 sluit, sal ’n paar uur van spanning vir Antoinette Steyn voorlê totdat verkiesingsuitslae gefinaliseer is. Sal...

Close