Breaking News

No breaking news at this time

SA se beste landelike verpleër van Worcester

’n Verpleër van Worcester is die afgelope naweek aangewys as Suid-Afrika se voorste landelike verpleegkundige.

Sr. Charlotte Stemmet bedryf ’n mobiele kliniek vir plase in die Breedevallei en ander dele van die Kaapse Wynland saam met haar kollega, stafverpleegster Christine Marcus. Die toekenning is gegee deur die Vereniging vir Landelike Verpleegkundiges van Suid-Afrika (RuNurSA) wat by die Vereniging vir Landelike Dokters van Suid-Afrika geaffilieer is. Dit is die eerste keer dat hulle die titel toeken.

“Hierdie toekenning is nie myne nie. Dit behoort aan elke mobiele verpleegkundige wat hul tyd en moeite wy aan die gesondheid van mense in uitgestrekte gebiede,” sê sy.

Dr. Guin Lourens, RuNurSA se voorsitter, het gesê: “Die toekenning word verleen aan ’n landelike verpleegkundige wat in landelike gesondheidsorg werk wat deur die RuNurSA-komitee beoordeel is dat hulle in die vorige jaar ’n merkwaardige bydrae tot landelike gesondheid gelewer het. Die aard van die bydrae word nie streng omskryf nie omdat landelike verpleegkundiges ’n groot verskeidenheid werk en aktiwiteite het.”

Gesondheidsorg in wind en weer

Of dit nou reën of mooiweer is, deur wind, sneeu of hael, sr. Stemmet en sr. Marcus pak hul mobiele kliniek en ’n fles koffie, en vertrek dan na die grondpaaie tussen die Vallei se plase.

Die pasiënte in die area wat as die Bossieveld-roete bekend staan, is ver van dorpe af en baie afhanklik van die mobiele klinieke vir primêre gesondheidsorgdienste.

Op die meeste plekke word die twee verpleegsters hartlik gegroet en baie plaasboere het ’n skuur of saal beskikbaar gestel waar die verpleegkundiges pasiënte kan sien.

Maar soms sien hulle pasiënte in die mobiele kliniek, waar hulle, in ’n ruimte bietjie kleiner as ’n karavaan, ’n omvattende primêre gesondheidsorgdiens bied wat insluit moeder- en babadienste, MIV- en TB-berading, -toetse en -behandeling, kindergesondheid, die hantering van chroniese siektes en vrouegesondheid.

Sr. Stemmet het onlangs haar meestersgraad in verpleging ontvang vir die anekdotiese navorsing wat sy gedoen het in The perceptions and experiences of nurses about the Mobile Clinic work environment.

Dr. Nomafrench Mbombo, die Wes-Kaapse minister van gesondheid, het oor die toekenning gesê: “Ons is besonder trots op sr. Stemmet se prestasie. Ons mobiele personeel is die ruggraat van plaasgesondheidsprogramme en hulle het vele vaardighede. Ek prys die organisasie vir die erkenning van sr. Stemmet se bydrae tot die gesondheid van haar gemeenskap.”

Sr. Stemmet het haar landelike loopbaan meer as 15 jaar gelede by die destydse klein kliniek in Nduli, net buite Ceres, begin. Sy het toe na mobiele eenhede geskuif en is sedertdien betrokke by die stigting van ’n gesondheidskomitee, sopkombuis, volhoubare groentetuin, halfweghuis vir MIV-pasiënte en die koördinering van gemeenskapsorgwerkers.

Het jy ’n plaaslike storie wat jy graag wil deel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (6 votes, average: 4.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Gedigte in McGregor 2016
Kry ’n skeppie hartskos met Gedigte in McGregor

  As die wonderwêreld van woorde nog altyd vir jou ’n bekoring ingehou het, behoort jy 26 tot 28 Augustus...

Close