Breaking News

No breaking news at this time

Kry ’n skeppie hartskos met Gedigte in McGregor

 

As die wonderwêreld van woorde nog altyd vir jou ’n bekoring ingehou het, behoort jy 26 tot 28 Augustus vir één ding oop te hou.

Gedigte in McGregor vind daardie naweek plaas met ’n groot verskeidenheid interessante en dinamiese digters wat vanjaar hul werke gaan deel.

In die Afrikaanse kategorie kan gedigteliefhebbers uitsien na voorlesings deur onder andere Margot Luyt, Koos van der Merwe, Daniel Hugo, Diana Ferrus, Hermien de Vos en Lara Kirsten. Engelse digters sluit James Matthews, Patricia Schonstein, Kobus Moolman, Khadija Tracey Heeger, Harry Owen, Elisa Galgut en Vangile Gantsho in.

Louise Westerhout, die wenner van verlede jaar se gedigtekompetisie, is ook vanjaar op die verhoog. Daar is ook digters soos Margaret Clough en Stephanie Saunders wat altyd vermaak met hul fyn humor. UWC poets, Lingua Franca, Spoken Word Movement en Mothertongue is van die groepe wat hul kuns gaan kom uitleef.

Sien die volledige lys van digters wat gaan deelneem hier.

’n Samekoms van meesters

Lara Kirsten

Sy is ’n konsertpianis en voordragdigter. Sy kombineer dikwels haar digkuns met beweging, die visuele kunste, fotografie en musiek. Na die laaste twee jaar se voorlees by die McGregor Poetry Festival, keer Lara vanjaar terug met ’n poëtiese dansaanbieding met gekalligrafeerde lyf, ink, as, papier en tong; ’n rituele soektog na poësie, betekenis en identiteit as vorm van bemagtiging. Woord word lyf. Lyf word woord. Voordrag in Afrikaans, met gedrukte Engelse vertalings.

Hermien de Vos

Sy het drama studeer aan Stellenbosch en daarna gespeel in onder meer Nag vd 19de, Amalia en Villa Rosa. In 2011 het sy ’n dokumentêr, ‘Op Theefontein’, verfilm en in 2015 ‘Once upon a time’, n kort filmpie oor die pikkewyne van Stony Point.  Die laaste paar jaar is Hermien ook nou verweef met Hermina Bamboesina – ’n karakter wat ontstaan het as kreatiewe kampvegter vir die wilde natuur wat sy besing en waarna sy hunker.

Koos van der Merwe

Sy aanbieding heet “Hoekom dan gedigte?” Hoekom iets met ’n gedig wil sê? As jy dan kan e-pos, twiet, SMS of gewoon net kan praat, hoekom dan gedigte? Koos reis saam met jou na plekke waar jy weet gewone woorde nie genoeg is nie. Soms voel die hart te diep om net gewoon te sê. Soms skyn die lig te helder vir ’n alledaagse sin, en soms is dit te donker vir praatjies maak. Die hart is só dat dit soms niks kan sê en niks kan hoor nie…as net gedigte. Bo en behalwe “Hoekom dan Gedigte?” sing Koos van der Merwe ook Bob Dylan in Afrikaans as deel van die naweek se program.

Margot Luyt

Sy sê oor haar voordrag: “Poësie voer my dikwels so ver weg dat my eie angs, verlange en melancholie verflou. Die woorde, die emosie ontvoer my na plekke wat ek nie ken nie, maar dikwels oor droom. Plekke waar ek myself kan omvou met die atmosfeer van die vers. Kom luister na verse oor liefde – alle soorte liefde. Liefde vir die ongebore kind maar ook liefde tussen volwassenes en bejaardes.”

Die Mothertongue Jeugteatergroep

Hierdie kreatiewe groep vermeng gedigte, musiek en dans in hulle voordrag. Al die materiaal is deur die groep self geskryf en saamgestel en word in Engels, Afrikaans en Xhosa aangebied. Sara Matchett is die direkteur van die groep wat bestaan uit Melenie Jakobs en Ashley Seconds (La Chasseur), Jaydene Lekay (McGregor), Denise Gandu (Dwarswater), Sandile Kosana, Khayalethu Mkorwana en Simphiwe Mangqasa (Nkqubela).

McGregor moet dit wees

McGregor is die perfekte dorpie vir die viering van digkuns. Die lokale is loopafstand van mekaar en die plattelandse sjarme van die dorp dra by tot ’n unieke ervaring. Die optredes sal plaasvind in die sielvolle tuine van Temenos, ’n lieflike agtertuin-amfiteater, die Wahnfried Teater, Edna Fourie Gallery, The Green Room en The Lion House. Carol’s Pub is die plek om te wees vir die Voices on Fire-kroegprogram. Terwyl jy ’n lekker glasie wyn drink, sal digters ’n klokkie lui en spontane voorlesings doen.

Enigeen kan gedigte kom voorlees

Daar is ook vanjaar weer ’n aanbieding van die gewilde Open Mic-sessies. Hierdie sessies word gelei deur Hugh Hodge. Enige iemand wat graag hul gedigte wil voordra is welkom. Dié wat wil meemaak kry ’n nommer en wanneer die nommer gelees word sal hy of sy ’n kans kry om ’n gedig te deel. As daar tyd is, kan dieselfde persoon ook meer as een gedig voordra. Almal is welkom om dit by te woon. Geen kaartjies of besprekings is nodig nie.

 

Kaartjies vir die naweek se program-items is beskikbaar by Computicket. Vir meer inligting, gaan na die gedigtefees-webwerf.

gedigte in mcgregor poster

Het jy ’n plaaslike storie wat jy wil deel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Community
deafNET conference
Bringing together a continent – from an office in Worcester

Almost every country on the African continent will be represented at a conference in Johannesburg next month, and a small...

Close