Breaking News

No breaking news at this time

Olimpiese atlete, afrigters en beamptes uit dié vallei

Die Breederivier-streek het deur die jare sy kwota mense met ’n verbintenis aan die Olimpiese en Paralimpiese Spele opgelewer. Hier is ’n lys (laat weet ons asseblief as jy van nog iemand weet wat hier behoort te wees):

Wenda Nel

wenda nel rio 2016
’n Foto wat Wenda Nel se ma, Anneke Hugo, gestuur het van Wenda in die Olimpiese kompleks in Rio.

Wenda Nel (née Theron) maak vanjaar haar Olimpiese debuut. Sy was in Worcester Primêr op laerskool en het in 2006 matriek geskryf aan Worcester Gimnasium. Sy is ’n atleet vir Tuks/HPC en sal volgens die huidige Olimpiese skedule Dinsdagoggend 16 Augustus om 02:30 Suid-Afrikaanse tyd aan die uitdunne vir die 400m-hekkies vir vroue deelneem. Die semifinaal is geskeduleer vir Woensdagoggend 17 Augustus om 02:10 en die finaal vir Vrydagoggend 19 Augustus om 03:15. (Valleiers word aangeraai om nader aan die tyd seker te maak van TV-uitsendingstye.)

Wenda se ma, Anneke Hugo, het Woensdag 10 Augustus vanuit Pretoria (waar sy skoolgee by Laerskool Elarduspark) gesê Wenda het in 2012 twee keer kwalifiserende tye vir die Olimpiese Spele in Londen behaal, maar kon weens Saskok-bepalings nie gaan deelneem nie.

Wenda het verlede Donderdag na Rio vertrek, betyds vir die openingseremonie Vrydag. Hoewel sy weens die groot tydverskil en Vrydagaand se lang seremonie aanvanklik baie moeg was, het sy van eergister af weer beter begin voel. Haar groot mikpunt is om die 400m-hekkiesfinaal te haal, sê Anneke. “Ons hoop en bid alles loop goed vir haar.”

Anneke en haar man, Wenda se man, haar agent en enkele familievriende sal in Rio wees om haar te sien hardloop.

wenda rio 2016
Wenda en van haar Suid-Afrikaanse spanmaats by die Rio-openingseremonie. Foto: Met vergunning van Anneke Hugo

Hendri Herbst

Hendri Herbst
Hendri Herbst is vanjaar by sy tweede Paralimpiese Spele. Foto met vergunning van Hendri Herbst

Hendri het in 2010 as hoofseun aan die Pionierskool matrikuleer. Hy neem vanjaar aan sy tweede Paralimpiese Spele deel en sal op 9 September 100m-rugslag swem, op 12 September 50m-vryslag en op 15 September 100m-vryslag.

Hy was een van die sterre by die 2012-spele in Londen, waar hy ’n bronsmedalje in die 100m-vryslag vir Suid-Afrika gewen het. Hy het ook 50m-vryslag, 100m-rugslag en 400m-vryslag geswem.

Hy is op hoërskool deur die Worcesterse swemafrigter Ingrid van der Westhuizen (née Visser) geslyp, voor hy sy swemloopbaan by Maties voortgesit het. Hy is tans ’n derdejaar LLB-student.

“Ek wil natuurlik Londen se prestasie ewenaar, maar as als perfek uitwerk op die dag, hoop ek vir ten minste ’n medalje in die 50- en/of 100-vryslag. Maar die kompetisie is baie sterk; daar is so vier van ons wat baie naby aan mekaar lê.”

Ten spyte van ’n skouerbesering verlede jaar, het hy goed gevaar in kwalifiserende byeekomste vanjaar. “Ek kon daarop voortbou. Ek sien uit na Rio.”

HendriHerbst2015
Hendri Herbst in 2015. Foto met vergunning van Hendri Herbst

Nathan Meyer

Nathan is ’n oudleerder van die Pionierskool en het in die 2000 Olimpiese Spele in Sydney twee goue medaljes vir naellope gekry (100m en 200m, T13-afdeling) en by die 2004-spele in Athene silwer in die 200m.

Volgens ’n berig in die Mail&Guardian van 21 September 2004  was daar verwarring toe Nathan se naam by die eindstreep in die eerste plek op die reuse-uitslagbord verskyn het. Hy het egter na regte in die derde plek geëindig en het opgeskuif na nommer twee toe Royal Mitchell van Amerika gediskwalifiseer is. Hy het glo só die enigste Paralimpiese atleet geraak wat in stadiums goud, silwer en brons vir dieselfde item agter sy naam gehad het.

Marius Louw

mariuslouw2
Marius Louw se Paralimpiese bronsmedalje met ’n foto van hom (in groen) by die ander podiumplek-wenners.

Marius was deel van die fietsryspan wat in 2000 in Sydney, Australië aan die Paralimpiese Spele deelgeneem het. Hy het vir Suid-Afrika ’n bronsmedalje huis toe gebring nadat hy ’n goue medalje met ses sekondes gemis het.

Marius, wat Doof is en vertel dat hy as jong seun ook so spasties was dat hy gedurig geval het, het op sewejarige ouderdom Worcester toe gekom en in 1989 matriek geskryf by die De la Batskool. Hy het eers begin hardloop en later fietsgery en nege medaljes (silwer en brons) by wêreldkampioenskappe vir atlete met gestremdhede gewen. Hy werk tans by Orbit Motors in Worcester en neem nog gereeld aan bergfietswedrenne deel.

Marike Naudé

Marike Naude
Marike Naudé het aan die 2012 Paralimpiese Spele deelgeneem. Sy studeer nou veeartsenykunde in Pretoria. Foto met vergunning van Marina Naudé

Marike het haar laerskoolloopbaan by die Pionierskool voltooi en het in 2013 aan Hoërskool Montana matriek geskryf. Sy het in 2012 aan die Paralimpiese Spele deelgeneem, waar sy vir Suid-Afrika geswem het. Ook sy is deur Ingrid afgerig. Marike is nou ’n derdejaar veeartsenykunde-student aan die Universiteit van Pretorial.

Alexander Heath

alex heath
Alex Heath, wat by tye in De Doorns skoolgegaan en drie keer aan die Winterspele deelgeneem het. Foto: 702/Facebook

Alexander (of Alex) Heath was Suid-Afrika se eerste Olimpiese skiër en sover vasgestel kan word een van net drie in die geskiedenis. Hy het Suid-Afrika in 1998 (Japan), 2002 (VSA) en 2006 (Italië) verteenwoordig. Hoewel hy grootliks in Kaapstad en Brittanje grootgeword het, het hy volgens ’n berig van die Mail&Guardian van 1 Maart 1996 by tye ’n paar maande van die jaar by Hoërskool Hexvallei in De Doorns (waar sy ma vandaan kom) skoolgegaan. Hy rig tans ski af by die Tiffendell-ski-oord in die Oos-Kaap.

Chauncey Johnson

Chauncey Johnson
Chauncey Johnson (links), ’n oudleerder van Esselenpark Hoërskool, saam met die Duitse Olimpiese atleet Malte Mohr. Foto: Malte Mohr/Twitter

Dié oud-Worcesteriet wat aan Esselenpark Hoërskool matrikuleer het, kan die titel Olimpiese paalspringafrigter agter sy naam skryf. Hy het onder meer die Duitse Olimpiese atleet Malte Mohr afgerig vir die 2012-spele in Londen.

Chauncey sê toe hy nog in Worcester skoolgegaan het, is hy afgerig deur die bekende Fazli Valley-Omar en Thomas van Noie, en ook Chris Visagie. “Later op universiteit was dit Joep Loots. Hy was ook my mentor wat my die fynere kunste van paalspring geleer het.”

Hy is ook in die laaste drie jaar van sy hoërskoolloopbaan deur Emile Koopman in die 200m, 400m en verspring afgerig.

Hy het hom by die Universiteit Stellenbosch as biokinetikus gekwalifiseer.

Koos Engelbrecht

koos engelbrecht2
Koos Engelbrecht ontvang verlede jaar ’n toekenning vir sy werk om Taekwondo by die Paralimpiese Spele van 2020 te laat insluit. Foto: cpisra.org

Koos Engelbrecht, ’n onderwyser by die De la Batskool, het ’n lang en intensiewe geskiedenis met die Paralimpiese Spele. Hy was in 2000 bestuurder van die Paralimpiese fietsryspan wat in Sydney gaan deelneem het.

In 2004 in Athene en 2008 in Beijing het hy die SA Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes (SASAPD) as president verteenwoordig.

Hy is tans president van CPISRA (die wêreldbeheerliggaam vir sportlui met serebrale gestremdhede), onder wie se leiding onafhanklike wêreldbeheerliggame vir sewes-sokker en boccia (albei vir mense met serebrale gestremdhede) tot stand gekom het.

Hy is ook in 2015 vereer vir sy bydrae tot die insluiting van para-Taekwondo as Paralimpiese sport by die Spele in Tokio in 2020.

Kobus Marais

kobusmarais
Kobus Marais (links) is sedert 2006 verkose raadslid van Saskok.

Kobus Marais, Worcesteriet en parlementslid, is sedert 2006 ’n verkose raadslid van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), wat die SA Olimpiese Komitee, die SA Paralimpiese Komitee en die SA Statebondspelefederasie insluit. In dié rol was hy by die Paralimpiese Spele in Beijing (2008) en Londen (2012), en beplan hy om in September vanjaar Rio toe te gaan.

Van 2005 tot 2006 was Kobus die laaste president van Disability Sport SA, wat die nasionale Paralimpiese komitee en beheerliggaam vir sportlui met gestremdhede was. Tot 2012 was hy ook ’n visepresident van die Afrika Paralimpiese Komitee (APC). Hy is die afgelope vier jaar visepresident van die SA Sportvereniging vir Ligaamlik Gestremdes.

Charles Beukes

Charles Beukes is ’n bekende in plaaslike sportadministrasie-kringe en was in 1992 deel van die keuringskomitee vir die eerste Olimpiese Spele waar atlete van Suid-Afrika toegelaat is ná 1960. Hy was ook self in Barcelona as ’n vennoot van die Suid-Afrikaanse afvaardiging.

Elana Meyer

Elana Meyer
Elana Meyer was by Hoërskool Robertson in matriek. Foto: Elana Meyer/Facebook

Elana het geen bekendstelling nodig nie. Sy het in 1992, die eerste keer wat Suid-Afrika weer by die Olimpiese Spele toegelaat is ná 1960, ’n silwermedalje in die 10 000m gewen en later wêreldrekordhouer in die 5km-, 15km- en 21,1km-padwedlope geword.

Elana het in 1984 aan die Hoërskool Robertson matrikuleer. Sy bedryf deesdae die uithousport-akademie Endurocad en tree gereeld as motiveringspreker op.

* Hierdie artikel is sedert die verskyning van die oorspronklike weergawe aangepas volgens lesers se aanvullende bydraes.

As jy inligting het wat jy glo bygevoeg moet word, of ander nuus wil deel, klik hier.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (2 votes, average: 4.50 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
verpleër-beste
SA se beste landelike verpleër van Worcester

’n Verpleër van Worcester is die afgelope naweek aangewys as Suid-Afrika se voorste landelike verpleegkundige. Sr. Charlotte Stemmet bedryf ’n mobiele...

Close