Breaking News

No breaking news at this time

Die plek waar wonder(kuns)werke gebeur

Ryno Eksteen se tydlyn op Facebook is soos ’n klein kunsgalerytjie.

Daar is sketse en skilderye – sy eie natuurlik – waarna jy weer en weer wil kyk. Kerkstraat ná die reën, ’n berg-wingerd-toneel so in die verbyry, ’n lewensgetroue Lamborghini vir ’n elfjarige.

Daar is die foto’s. Alledaagse tonele deur ’n lens wat fyn sien. En voel. Altyd met ’n byskrif wat jou gedagtes laat soek na simboliek of jou eie verlede.

Elke woord – oor gewone en belangriker dinge – is fyn geskryf.

Terwyl ek vanoggend besig was om ’n swart hond te teken, het ou liedjies van Johannes Kerkorrel in die agtergrond gespeel.

Tammy het pas vir my ’n geheim vertel. Sy sê die grootste ding van die liefde lê in die aanwending daarvan.

En dan is daar sy werk met die ontluikende kunstenaars van Kaleidoskoop SA. Geduldig. Meelewend. Dié van ’n leer-meester.

Eerlike kuns

Ná 30 jaar as professionele kunstenaar wat uiteenlopende opdragwerk doen, is Ryno deesdae voltydse kunsmentor vir swaksiende en multigestremde inwoners van Kaleidoskoop. Die kunsklasse het eintlik al in 2013 onder Irene de Bod se leiding begin, maar Ryno het in 2014 by haar oorgeneem en een keer per maand ’n klas aangebied. Vandag is daar meer as 30 kunsstudente wat in klein groepies elkeen ’n beurt kry om een keer per week vir ’n uur aan hul prente te werk.

Sunet Verreynne het vandag geleer dat dit nie nodig is om ’n uitveër te gebruik nie. Niks wat hier gemaak word is verkeerd nie, so ons hoef niks uit te vee nie.

Ryno vertel dat dié wat aansluit gewoonlik ’n behoefte het om hul kreatiwiteit uit te leef. Hy laat hulle met basiese kryt en potlood op papier begin om te sien wat hul vaardighede is. “Dan vat ons dit van daar af, want ek glo daaraan om die basis van kuns maak eers onder die knie te kry; nie dadelik allerhande groot doeke en abstraksie nie, want dan glo ek gaan die essensie verlore van waarmee ons besig is.”

Eerlikheid is die essensie, sê Ryno. “Ek probeer al my kennis oordra, so dat elkeen hulle eie stem kry. As jy daardie twee lyne met gevoel, uit jou diepte en uit jou hart uit kan maak is dit reg so. Kom ons vergeet nou of hierdie werk gaan verkoop, wie dit gaan sien en daarop gaan reageer. Doen jou prentjie uit jou hart uit; die res kom vanself.”

Niemand weet eintlik waar die bo en onder van Lorraine se skildery is nie; maar toe sy hoor dat dit al verkoop was voordat dit voltooi is en op pad Amerika toe, nogal, het sy groot gelag en gesê sy kan nie wag vir die volgende klas nie.

kuns-lelanie
Lelanie van Niekerk. Foto: Ryno Eksteen
kuns-jacques
Jacques Loftus. Foto: Ryno Eksteen

Hulle is net gelukkig

Net soos Ryno nie regtig kan antwoord wáárom hy sy lewe in Kaapstad agtergelaat het nie (’n mens doen wat jy moet doen), is daar geen klinkklare antwoord oor waarom die kunsstudente week na week kom aanmeld nie. Maar hulle weet daardie uur is ’n onbetwiste hoogtepunt van die week. “Natuurlik!” roep Lelanie van Niekerk uit as jy vra of sy elke klas bywoon, amper verbaas dat dit ’n vraag is.

“Dit laat my ontspan en ek dink aan ander goed; dit doen my net goed,” sê Jacques Loftus, besig om die Shosholoza Meyl te teken in indrukwekkend baie besonderhede vir iemand wat net sy geheue daarvoor gebruik.

Verity Dyason het ná sy vriende se 2015-uitstalling by die i-Art Gallery gaan kyk en besluit hy is in 2016 daar! “Mens kry baie inspirasie. Dit maak jou kop skoon,” sê hy. “Ek het Vrydag gesê dit moet al Maandag (sy kunsdag) wees.”

Louwtjie Kruger beskryf die klasse as terapie.

“Maar een ding wat ek ervaar as ek van tyd tot tyd in sy klas instap, is die moment wat hulle daar sit agter ’n papier of ’n doek en begin teken, dan straal daar so ’n vrede en rustigheid uit hulle uit,” sê dr. Johan Pretorius, vriend van Ryno en ook hoof van interne opleiding by Kaleidoskoop. “Hulle is net gelukkig!”

En tussendeur praat hulle oor alles onder die son en maan. Ek het vanoggend veral baie geleer van bangmaak-flieks, rondloperdiere, vlermuise, oumas en dat hoenders in spreekwoorde gebruik word.

kuns-groepfoto
Ryno Eksteen (heel links) saam met Lelanie van Niekerk, Jacques Loftus, Verity Dyason en Louwtjie Kruger. Foto: Elana van der Watt

Deel van ’n kreatiewe wêreld

Hulle werk op die oomblik aan ’n uitstalling in die i-Art Gallery, wat op 29 September sal open. Sowat 80% van verlede jaar se kuns het op die openingsaand uitverkoop.

Mense soos Ryno is yl gesaai, maar Johan hoop tog dat nuwe vrywilligers nuwe dinge vir inwoners sal ontsluit, soos om tromme, viool, saksofoon en klavier te kan speel, of in ’n koor te kan sing. “Indien ons bekwame vrywilligers kon kry sou ons baie meer musiekopleiding wou aanbied. Ons droom altyd groot!”

Musiek, en ’n klein bietjie drama, is ook reeds deel van Kaleidoskoop se kreatiewe wêreld. Inwoners kry opleiding in kitaar en blokfluit en die Blinde Boere Orkes het al naam gemaak. “Ons het die drama-afdeling wat jaarliks die Kersspel aanbied en van ons inwoners is ook baie goeie solosangers en tree by geleenthede op.”

Johan praat met verwondering oor mense wat blind en doofblind is, wat serebraal gestrem en spasties is, kan blom in ’n kunsprojek waarvan die werke tot uit Amerika gekoop word. “Niks is onmoontlik nie! Dit is net merkwaardig; ek is absoluut verstom oor die behoefte onder mense om kreatief te wees in ’n kunsvorm.”

Vir ’n buitestaander is elke prent wat by Kaleidoskoop gemaak word ’n wonderwerk. Maar regte wonderwerke gebeur ook.

Jaco van Wyk is doof en kan nie praat nie. Niemand het eintlik geweet hoe om met hom te kommunikeer nie. Tot hy begin kunsklasse neem en op ’n dag vir Ryno ’n brief agterop ’n tekenpapier geskryf het.

En toe gebeur ‘n wonderwerk!

* Ryno Eksteen bied ook privaat kunslesse aan. Vir meer inligting oor die kunsprojek, kunsklasse of i-Art Gallery, kontak Kaleidoskoop by 023 347 2745 of info@kaleidoscopesa.org.

kuns-rynofoto
’n Pragfoto wat Ryno Eksteen van Kerkstraat, Worcester geneem het.
kuns-rynoskets
En wat hy daaruit geskep het.

Het jy ’n plaaslike storie wat jy wil vertel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

 

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (1 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Wenda Nel Rio Olimpiese spele 2016
Olimpiese atlete, afrigters en beamptes uit dié vallei

Die Breederivier-streek het deur die jare sy kwota mense met ’n verbintenis aan die Olimpiese en Paralimpiese Spele opgelewer. Hier...

Close