Breaking News

No breaking news at this time

Plaaslike Kansa-kantoor help duisende dié boekjaar

Een van Kansa se mees merkwaardige prestasies in sy 85-jarige bestaan, is ’n gemeenskap van mense wat saamwerk om geld in te samel en werk gedoen te kry.

So glo Elize Joubert, uitvoerende hoof van die Kankervereniging van Suid-Afrika, en in die Breedevallei is dit geensins anders nie.

Kansa se Boland/Overberg-streekkantoor, wat in Worcester geleë is, het ’n netwerk van meer as 280 vrywilligers wat hom ondersteun om geld in te samel en dienste te bied aan mense by wie kanker gediagnoseer is, hul families en die breër gemeenskap.

Hier is nog ’n paar interessante feite oor die plaaslike kantoor, wat saam met die res van die landwye netwerk vanjaar Kansa se 85ste bestaansjaar vier:

• Altesaam 739 mense met kanker is die afgelope boekjaar op emosionele vlak deur ’n Kansa-personeellid of n Kansa-vrywilliger ondersteun.

• 382 kankeroorwinnaars en familielede is bereik deur middel van kankerondersteuningsgroepe.

• 1 691 pasiënte is ondersteun met mediese toerusting, pruike, borsprosteses en wegdoenbare middels soos doeke, en deur die Worcester-onkologiekliniek.

• 23 621 mense is bereik met kankerbewusmakingsprogramme by skole, kerke en ander instellings.

• 2 351 mense het ’n gratis kankersiftingstoets ontvang wat deur ’n geregistreerde verpleegkundige gedoen is.

Uit die gemeenskap, vir die gemeenskap

Volgens Joubert sluit die wye Kansa-netwerk kankeroorwinnaars, versorgers, mediese en navorsingskundiges in, borge en die algemene publiek wat die organisasie getrou ondersteun. Sy het groot waardering vir mense wat hard werk aan byeenkomste soos CANSA Relay for Life, CANSA Shavathons en ander projekte.

Dié noue verhouding tussen Kansa en die publiek, het onder meer gelei tot ’n reeks toekennings die afgelope paar jaar. Die organisasie het in 2014 en 2015 eerste gekom in die afdeling vir nieregeringsorganisasies van PMR se Diamond Arrow Overall National Survey on Corporate Social Responsibility Programmes. In 2013 het Kansa ’n goue toekenning gekry vir vrygewigheid en uitnemendheid in die Universiteit van Stellenbosch se Visekansellierstoekennings.

Die Kansa-handelsmerk is in 2014 deur Reader’s Digest aangewys as die een wat die meeste vertrou word onder liefdadigheidsorganisasies, en in 2015 as die hoogs aanbevole een. Jongmense het vanjaar gesê dit is die “coolste” handelsmerk in die Sunday Times Generation Next Survey.

Ook Kansa se uitvoerende hoof, en groot verslae het verskeie toekennings en erkenning gekry.

Waardevolle werk

Die organisasie het in 1931 ontstaan as die Nasionale Kankervereniging en het vandag verskeie suksesvolle veldtogte agter die rug, afgesien van sy ondersteuningsdienste.

Kansa doen byvoorbeeld tans voorbrand vir die aanpassing van die wet op patente wat op meer bekostigbare medikasie vir kankerpasiënte sal uitloop. Hulle het ook ’n dokument met meer as 16 000 handtekeninge aan die adjunkminister van gesondheid oorhandig met die hoop om die gebruik van sonbeddens deur kinders onder 18 te laat verbied.

Enigiemand wat meer inligting van CANSA se Boland/Overberg-kantoor wil hê, kan besoek aflê by Fairbairnstraat 79, Worcester of 023 342 7058 skakel.

Het jy ’n storie wat jy graag sal wil deel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Lize, Leo Liela foto's
Worcester na Parys: Hoe Lize en Leo wêreldklas-fotograwe geword het

Hulle was in Julie as troufotograwe Engeland toe. In Oktober moet hulle in Frankryk wees. Ja, Lize en Leo Mostert se...

Close