Breaking News

No breaking news at this time

Worcester na Parys: Hoe Lize en Leo wêreldklas-fotograwe geword het

Hulle was in Julie as troufotograwe Engeland toe. In Oktober moet hulle in Frankryk wees. Ja, Lize en Leo Mostert se foto’s is só goed. Hoe het dit gekom dat hierdie twee Worcesteriete, wat op skool nie van mekaar se bestaan geweet het nie, nou ’n wêreldklas-fotograafpaar is? En hoe bly mens gelukkig getroud as jy saam moet werk in so ’n veeleisende bedryf?

Lize (Roelofse) Mostert gesels oor ’n nederige begin, sukses en die bitter harde werk tussenin.

lilac-photography-snow

1. Vertel die storie van Lilac Photography

Lilac Photography is ek en my man, Leo. Ons hooffokus is troues, maar ons doen heelwat ander leefstyltipe foto’s soos gesins-, swangerskap-, baba- en verlowingsfoto’s. Ek beoefen fotografie vir so 12 jaar al, maar het eers ses jaar terug ernstig begin bou aan die besigheid toe ek en Leo getroud is. Ons sit regtig alles in ons foto’s en probeer altyd om op ons vorige werk te verbeter.

lilac-photography-bended

2. Hoe hou julle dit interessant ná soveel sessies?

Ons het hierdie genre van fotografie gekies want ons hou van met mense werk. Troues en die res is meestal maar dieselfde; wat die verskil maak is die mense. Dus plaas ons die fokus op hulle en maak seker dat ons die liefde tussen hulle vasvang. Dit is tog wat foto’s so aangrypend maak – die mikrosekonde van emosie wat die gemiddelde mens gewoonlik wegsteek.

lilac-photography-sofa

3. Hoe het Lize van Lilac Photography Lize-en-Leo geword?

Voor ons getroud is het Leo my by troues gehelp deur om my rond te ry en toerusting te dra. Ons het daardie tyd nog baie min troues gedoen. ’n Jaar na ons getroud is het ek so ’n paar troues oor die somervakansie gehad en hierdie keer het Leo duidelik laat weet dat dit te vervelig is om heeldag rond te staan!

Met ’n kamera wat ons geleen het by my suster, het Leo sy eerste troue afgeneem. Sy ingenieursdenkwyse het hom gehelp om vinnig die tegniese aspekte van fotografie te snap; soveel so dat hy my later ’n hele paar dinge oor fotografie geleer het! Ek het hom weer oor komposisie geleer, sowel as hoe om mense op hul beste te laat lyk.

lilac-photography-bikes

4. Noem ’n paar interessante getalle

Vanaf Januarie 2016 tot vandag het ons so 19 troues en 67 kleiner fotosessies gehad. Dit is gemiddeld ’n fotosessie elke 2,5 dae! Vir troues neem ons so 5 000 foto’s, afhangend van die dag en die ure wat ons daar is. Elke foto is omtrent 30MB groot, so dit kom neer op ’n minimum van 150GB se foto’s per troue.

Kleiner fotosessies beloop so 1 000 tot 2 000 foto’s. Gooi dit saam met die hoeveelheid fotosessies genoem hierbo, dan raak dit vinnig duidelik hoekom ons nie juis na-uurse lewens het nie. Ons lewer tans so 1 500 geredigeerde foto’s vir troues, en so 300 vir die kleiner fotosessies.

lilac-photography-ruin

5. Dit is seker nie altyd maanskyn en rose nie?

Ons het bitter hard gewerk om tot op hierdie punt te kom. Ek en Leo het normale 7-tot-5 werke gehad, en die fotografie in ons aftye gedoen. Dit was normaal vir ons om direk na werk ’n fotosessie te gaan doen, huis toe te ry en dan verder te werk aan die foto’s tot 24:00. Elke dag. Elke aand. Saterdae en Sondae. As ons vriende ons genooi het vir normale na-uurse aktiwiteite, moes ons ongelukkig nee sê as gevolg van fotosessies. Ons het nie naweek gehad nie en ons het steeds amper nie!

lilac photography-smoke

6. Julle lyk soos avontuurlustige fotograwe wat hou van eksperimenteer…

Daar is regtig baie goeie fotograwe in die Wes-Kaap; dus was dit een van ons besigheid se mikpunte om foto’s te lewer wat buite die norm is. En met Leo se tegniese kennis van beligting, was ons in staat om meer kreatief te wees. Dit het ons baie gehelp om te groei as fotograwe. Soos ons styl ontwikkel het, het ons kliënte gelok wat foto’s soek wat anders is. Dus het ons werk vir ons gewillige kliënte opgelewer! Ons probeer altyd om weg te breek van die norm, maar steeds ’n album te lewer wat tydloos is.

Ons noem aan ons kliënte dat solank hulle gewillig is, kan ons in enige weer, omgewing of area foto’s neem. Veiligheid is wel altyd prioriteit! Op die ou end doen ons wat die kliënt wil; dit is immers hul foto’s! So dit is fantasties om kliënte te kry wat na ons kom met foto’s waar ons iets nuuts kan aanpak. Ons het onlangs troufoto’s geneem op ‘n berg…terwyl dit sneeu! Dit klink dalk idillies, maar almal was yskoud en redelik nat van die koue vlokkies – nie juis perfekte omstandighede vir foto’s nie.

lilac-photography-rain

7. Artikels, toekennings, oorsese kliënte…wat was vir júlle die hoogtepunte?

Daar is ‘n paar mylpale waaroor ons trots is. Van die eerstes was so eenvoudig soos om vir die eerste keer ’n jaar vooruit bespreek te wees. Of ons eerste troue waar ons moes vlieg. In 2015 het ons die Top Vendor Wedding Awards 2015 – People’s Choice (Pro Category) gewen. Dit was ’n groot eer! Die grootste sukses en hoogtepunt van alles, was dat ons die besigheid kon opbou tot op so ’n punt dat ek my ondwerwysloopbaan kon los om voltyds fotografie te doen.

lilac-photography-dust

8. Hoe werk julle saam sonder om te baklei?

Ek en Leo ken mekaar al langer as 11 jaar. Ons was ’n paartjie vir vyf jaar voor ons getrou het, so ons het mekaar se maniere redelik goed geken voor ons saam begin werk het. Ons het nog altyd alles saam bespreek en aangepak, selfs my verloofring! Dit beteken wel nie dat ons nie vasgesit het nie, maar as ons gebots het, het ons dit uitgepraat en ’n oplossing gekry.

Die fokus was altyd om die beste produk te lewer vir die kliënt, so daar is nie werklik plek vir ego’s nie. Ons lewer tot vandag kritiek oor mekaar se werk en vra mekaar gereeld raad vir moontlike verbeteringe. Die saamwerk het ons vir seker nader aan mekaar gebring!

lilac-photography-ballet

9. Vertel ons van julle Worcester-bande

Ons het albei op Worcester grootgeword en skoolgegaan. Soos Worcester maar daardie tyd was, het die verskillende skoolgroepe nie sommer gemeng nie. Dus het ek, wat in Montana was, nooit eers geweet dat Leo, wat in Gim was, bestaan het nie. Ons het mekaar op Stellenbosch ontmoet deur medevriende. Ons woon nou in ons eie ou plekkie in Bellville. Ons ouers woon nog al die jare op Worcester.

Hoewel ons kliëntebasis meestal aan die Kaapse kant van die berg is, het ons nogsteeds ’n hele paar kliënte in Worcester en ry ons gereeld deur vir selfs kleiner fotosessies.

lilac-photography-bride

10. ’n Tweejarige dogtertjie én ’n groeiende fotografie-onderneming?

Dit is MOEILIK! As jy vir jouself werk, is daar nie juis iets soos werksure nie. Mens probeer dit reguleer, maar elke uur wat jy nie werk nie, raak jy agter. Selfs met ons redigeerder wat uithelp, is daar BAIE werk om baas te raak. Om dus ’n baba by hierdie te voeg, wat eers na ’n jaar en ag maande begin deurslaap het, was rof. Sy’s nie eens ’n moeilike kind nie, maar dis werklik nie ’n maklike taak nie.

Ons kom wel deur hierdie ekstra besige en uitdagende tyd, want ons het mekaar. Ek is besonder gelukkig dat Leo baie hou van kosmaak, so hy maak meestal kos wanneer hy na werk by die huis kom. Hy was ook van die begin af ’n baie betrokke pa en het baie van die werkslading gedra wat saam met ’n babatjie kom.

lilac-photography-navy

11. Is fotosessies ná ’n baba anders?

Ons is absoluut geseënd met ’n engelkind, wat so perfek pas by ons. Sy’t dalk nie deurgeslaap nie, maar sy’t sonder om te huil (inteendeel, sy’t dit ten volle geniet) ’n hele paar twee tot drie uur lange fotosessies bygewoon toe sy kleiner was. Sy het in ’n babaharnas voor Leo se bors gehang terwyl hy self ook foto’s neem! Ons het altyd vooraf ons kliënte ingelig ’n derde lid van die gesin kom saam, maar sy wen harte oor waar sy ookal gaan!

Ons is omring deur fantastiese mense, veral ons ouers wat gereeld intree om na ons dogtertjie te kyk terwyl ons moet troufoto’s neem. Dit was en is steeds nie maklik nie, maar ons passie vir mense en doelwitte vir die toekoms maak alles die moeite werd.

Vir meer oor Lilac Photography, besoek hul webwerf hier.

lilac-photography-dogs

lilac-photography-sun

lilac-photography-daughter

Het jy ’n plaaslike storie wat jy wil deel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (4 votes, average: 4.75 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Kuns-lorraine
Die plek waar wonder(kuns)werke gebeur

Ryno Eksteen se tydlyn op Facebook is soos ’n klein kunsgalerytjie. Daar is sketse en skilderye – sy eie natuurlik...

Close