Breaking News

No breaking news at this time

Hendri, Fanie kuier by Pionierskool op pad Rio toe

Dit het Hendri Herbst meer as 20 000 km se swem, ’n paar bloedneuse, baie harde werk, opoffering en emosionele staal gekos om by sy tweede Paralimpiese Spele uit te kom. Hy en die Paralimpiese kampioen-naelloper Fanie van der Merwe was Maandag 29 Augustus by die Pionierskool om met die leerders te gesels oor drome, sukses en die hand van die Here in hul lewens.

page01

Hendri, wat in 2010 hoofseun van die Pionierskool was, se boodskap was: droom, werk hard, vertrou en moenie met te min tevrede wees nie. Want wanneer jy voor die hele wêreld op ’n podium staan, is alles wat moeilik was die moeite werd.

Hy het vertel dat hy tussen sy studies deur in Stellenbosch ses dae per week, twee tot vier ure per dag oefen. Hy werk agt tot nege swemsessies en twee of drie gimsessies in. Al die tyd in die swembad kom neer op meer as 20 000 km se swem die afgelope agt jaar. “Dit is min of meer die ekwivalent van Londen toe en terug!”

Die bloedneuse gebeur wanneer hy met oefensessies sonder “tappers” aan die punte van die swembad moet klaarkom. ’n Tapper is iemand wat met ’n apparaat aan ’n blinde swimmer tik wanneer hy so een en ’n half meter van die kant af is. “Dan weet jy dis nog so twee, drie slae, dan kan jy draai,” sê Hendri.

Maar met oefeninge is daar nie altyd mannekrag vir tappers nie, dan werk jy maar op die slae wat jy swem. “Dit het ook al veroorsaak dat ek ’n paar keer bloedneus uit die swembad klim as dinge nie so lekker uitwerk nie, maar hulle sê elke sport het sy beserings,” sê Hendri.

“Die groot uitdaging is natuurlik om reguit te bly in jou lyn, want as jy skeef gaan verloor jy baie tyd.”

Terugslae en vorentoe kyk

Hy het meer ernstig geraak toe hy vertel het dat hy op hoërskool nie net die gewone tiener-emosies moes verwerk nie, maar ook moeilike vrae oor sy gestremdheid. Toe hy verlede jaar ’n skouerbesering opgedoen het en vir lank nie kon oefen nie, was die bedenkinge oor of hy vir die Paralimpiese Spele sou kon kwalifiseer nog ’n moeilike emosionele tyd.

Sy swem was in sy tienerjare vir hom ’n ontvlugting, en die Here het ’n pad met hom gestap deur die swem, vertel hy. En sy ouers het hom grootgemaak om nie minder van homself te verwag omdat hy ’n gestremdheid het nie.

En dit was ook die boodskap wat hy aan die leerders oorgedra het. “Moenie net mik vir die 50% wat jy nodig het om deur te kom nie. Mik vir 80% of 90%. Al vat dit ’n bietjie meer werk. En nie net op skool nie maar in alles in die lewe.

“As jy vertrou en die harde werk doen, as jy die dedication het en die dissipline en die ambisie, is die feit dat jy blind of swaksiende is, vir seker nie iets om jou terug te hou nie. Daar’s absoluut geen rede hoekom jy dit nie kan doen nie. Die vraag is net hoe graag jy dit wil hê.”

Fanie praat oorFanie, wat al drie goue Paralimpiese medaljes vir Suid-Afrika gewen het en wat eenmaal per week leerders van die Pionierskool afrig, het ook ’n motiveringsboodskap aan die kinders gebring. Hy het gepraat oor sy besef dat die Here hom nie liefhet omdat hy goue medaljes wen nie, maar net omdat die Here hom liefhet. “Wat my confidence gegee het, is om te dink die Here het my aanvaar nog voor ek begin het.”

Fanie neem op 11 September aan die 100 m deel.

Twee oud-Pionierleerders in Paralimpiese Spele

Breede River Buzz het vroeër berig Hendri sal op 9 September 100m-rugslag swem, op 12 September 50m-vryslag en op 15 September 100m-vryslag.

Hy was een van die sterre by die 2012-spele in Londen, waar hy ’n bronsmedalje in die 100m-vryslag vir Suid-Afrika gewen het. Hy het ook 50m-vryslag, 100m-rugslag en 400m-vryslag geswem.

Hy is op hoërskool deur die Worcesterse swemafrigter Ingrid van der Westhuizen (née Visser) geslyp, voor hy sy swemloopbaan by Maties voortgesit het. Hy is tans ’n derdejaar LLB-student.

“Ek wil natuurlik Londen se prestasie ewenaar, maar as als perfek uitwerk op die dag, hoop ek vir ten minste ’n medalje in die 50- en/of 100-vryslag. Maar die kompetisie is baie sterk; daar is so vier van ons wat baie naby aan mekaar lê.”

Ten spyte van ’n skouerbesering verlede jaar, het hy goed gevaar in kwalifiserende byeekomste vanjaar. “Ek kon daarop voortbou. Ek sien uit na Rio.”

Nog ’n oudleerder van die Pionierskool, Louzanne Coetzee wat in 2011 matriek geskryf het, sal aan die Paralimpiese Spele deelneem, in die 1 500 m-atletiek-item. Sy is oorspronklik van die Vrystaat en studier tans versoeningstudies aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy hardloop haar wedloop op 15 September.

Het jy ’n plaaslike storie wat jy graag wil deel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (1 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
atletiek-hooffoto
Vyftig atlete, vyf afrigters, een visie

Groot dinge is aan die gebeur op Worcester se atletiekbane. Vyf van die dorp se voorste afrigters het reeds hul...

Close