Breaking News

No breaking news at this time

Vyftig atlete, vyf afrigters, een visie

Groot dinge is aan die gebeur op Worcester se atletiekbane. Vyf van die dorp se voorste afrigters het reeds hul vaardighede gekombineer vir die Worcester Atletiekklub se Worcester Junior Baan- en Veldprogram. Dit sal hopelik die beginpunt wees van ’n lang pad wat die klub met jong atlete stap totdat hulle eendag op senior vlak vir hul dorp kan uitblink.

Maar die program gaan ook oor iets báie groter as tegniese vaardighede en die herlewing van baan- en veldatletiek in Worcester. Hier oefen en groei kinders saam wat andersins nooit met mekaar te doen sou hê nie – van kinders uit dorpskole wat gereeld topatlete oplewer tot kinders uit plaasgebiede waar die geleenthede maar min is. En hier is enigiemand welkom, want dit gaan oor ’n liefde vir atletiek en niks anders nie.

“Ons wil kinders oor grense heen sáám laat ontwikkel,” sê Russell Cupido, ondervoorsitter van die Worcester Atletiekklub. ’n Laatmiddagbesoek aan Bolandpark maak dit duidelik dat dit reeds aan die gebeur is. So 50 kinders van ses Worcesterse hoërskole, vier laerskole en ’n spesiale skool oefen saam. Daar is energie en glimlagte en ’n openlike waardering vir die afrigters onder die kinders. Chris Visagie, Karin Theart, Dirkie Adams, Emile Koopman en Francois Prinsloo het as vrywilligers aangetree om die atlete te slyp.

“Ons doen dit omdat ons genuine life is vir kinders, en omdat ons lief is vir atletiek,” sê Karin terwyl die kinders op die baan is. Russell praat oor ’n liefde vir atletiek wat hulle probeer kweek en wat hopelik op die punt is om te herleef.

“Vir ’n hele paar jaar was baan- en veldatletiek eintlik dood in Worcester,” sê Chris. “Ons is nou besig om daardie atletiekkultuur weer te skep en op te bou tot daar waar dit was in die verlede.” Dit is juis om dié rede dat enige atleet welkom is: elite presteerders én jongmense wat net wil ontspan, atlete met en sonder gestremdhede, atlete van enige agtergrond en mense wat net as leiers, afrigters of klubbeamptes wil aansluit

“Elke kind wat wil kom, maak nie saak waar hy bly of wie hy is nie, kom hiernatoe,” sê Dirkie.

Uiteindelik, sê die klubbestuur en afrigters, is die doel nie net ’n nuutgevonde liefde vir atletiek en persoonlike ontwikkeling nie, maar ook groot uitvloeisels soos gesonde volwassenes en nasiebou.

Op ’n praktiese noot

So hoe gaan mens te werk om hierdie drome vir die juniors tot uitvoer te bring? Die klubbestuur glo ’n kerngroepie van afrigters en beamptes wat hulle tot die saak verbind het, kan langtermynontwikkeling onder atlete maar ook afrigters en beamptes regkry. Die sleutel is toewyding. Die program is reeds sowat ’n jaar aan die gang en die goeie verhouding wat tussen die kinders en hul afrigters bestaan is daar vir enige buitestaander om te sien.

Feitlik geen moeite word ontsien om kinders by die baan en weer by die huis te kry nie. Emile (wat deur Chris beskryf word as die dryfveer agter die program en ’n uiters talentvolle afrigter) ry daagliks uit plase toe om kinders op te laai. En die bestuurslede is agter die skerms maar heeltyd besig om reëlings te tref en steun te werf sodat ster-atlete kan deelneem aan die kompetisies waarvoor hulle kwalifiseer.

(Hulle is juis nou besig met ’n insameling vir twee atlete, Morne Swarts en Chenique Sass van Overhex, om aan die SA Landloopkampioenskappe te kan deelneem.)

Daar is ’n sterk fokus op realistiese doelwitte vir die jong atlete, om die jong lede te leer om met mense van alle agtergronde te kommunikeer, om hulle nie net fisies nie maar ook emosioneel en geestelik lewensfiks te kry, om goeie morele waardes vir hulle aan te leer, om goeie verhoudings te kweek en uiteindelik te help om burgers te word wat ’n waardevolle bydrae tot die samelewing lewer.

Op ’n praktiese noot beteken dit daaglikse afrigting en gesamentlike oefensessies by Bolandpark. Kompetisies soos ’n plaaslike atletiekliga is ’n groot mikpunt, asook tydtoetse, sosiale geleenthede, afrigtingskampe en toere na groot byeenkomste, wat alles ingespan sal word om jongmense op verskillende vlakke te help vorm.

Waarom die nuwe visie?

Volgens Russell en sy medebestuurslede is die juniorprogram deel van die Worcester Atletiekklub se projek om baan- en veldatletiek, wat die afgelope dekade of wat “om verskeie redes” maar afgeskeep is op dorpsvlak, te laat herleef.

Hulle dink terug aan tye toe legendes soos Kosie Koopman, Abe Fortuin en Hennie Moses en ander topatlete deur die sportliggaam SACOS uit Worcesterse geledere gekom het. Daar was ook Deno Joseph, Chauncey Johnson, Jacquiline Ockhuis, Abigail Fisher, Moses Maritz, Arthur Fredericks, Alton Scobel en Averon Cupido.“Ons was een van die sterkste klubs in die Boland. Behalwe Maties was ons dié klub met eenwording,” sê Chris. En hulle hoop dat Worcester in die afsienbare toekoms weer ’n noemenswaardige bydrae tot atletiek op senior provinsiale en selfs nasionale vlak sal maak.

Tot dan probeer hulle net die beste moontlike verskil maak in elke jongmens se lewe wat weeksdae by Bolandpark aantree.

Enigiemand wat meer inligting wil hê, kan Russell Cupido bel by 082 532 0826.

atletiek-nasionaal
Morne Swarts en Chenique Sass van Overhex Primêr het Wes-Kaapkleure in landloop gekry en kan aan die SA’s gaan deelneem mits hulle genoeg geld bymekaar kan maak.

page01

page02

Eie foto 2

page03

Het jy ’n plaaslike storie wat jy graag wil deel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (2 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
cansa care
Plaaslike Kansa-kantoor help duisende dié boekjaar

Een van Kansa se mees merkwaardige prestasies in sy 85-jarige bestaan, is ’n gemeenskap van mense wat saamwerk om geld...

Close