Breaking News

No breaking news at this time

Waarom Young Hamiltons ‘The People’s Team’ is

Al ooit gewonder hoekom die Young Hamiltons-rugbyklub “The People’s Team” of “The People’s Club” genoem word?

Die kort antwoord is dat die klub in 1948 ontstaan het uit die seuns van gewone werkers in Worcester – nie die geleerdes en professionele mense van die tyd nie.

Maar “gewone menswees” en medemenslikheid is ook deel van die klubkultuur, sê oom Charles Beukes, skakelbeampte vir Young Hamiltons met ’n ongelooflike kennis van sport en sportgeskiedenis in Worcester. Daar kom ’n sekere stel waardes saam met Hammies-wees, wat deur die jare aktief bevorder is en waarvoor die klubbestuur vandag nog veg.

Dit kan dalk teruggetrek word na die feit dat Young Hamiltons nooit die steun van ryk mense of borge gehad het nie. Ouers van die seuns wat die klub begin het, soos Jaftha Fransman, Abe Haupt en Ben Saunders, moes in die begindae koekies bak, en die jongklomp dit verkoop, om geld te hê vir truie.

Of dit kan gesien word in ’n destydse rehabilitasieprogram, waar “skollies” wat hulle ou weë laat vaar het by die klub verwelkom is. (Mense het in ’n stadium verwys na die “skollieklub”.)

“Dit is die klub wat regtig uit die mense kom, wat deur die gewone mense begin is en op die gewone wyse oorleef het – sonder borgskappe, sonder ryk mense wat beleggings maak in die klub. En dis ’n klub wat sy eie kultuur ontwikkel het,” sê oom Charles.

page01

So wat is hierdie Hammies-kultuur?

Eerstens speel jy vir liefde van die saak as jy vir Hammies speel, sê hy. Daar is nie geld of belonings vir die spelers nie, so passie is outomaties deel van die pakket.

Hammies was vir baie lank die enigste klub in die dorp met ’n amptelike klublied, Blue Forever, wat trots by elke wedstryd gesing word wanneer die span op die veld stap. Die Swartlandse klub Never Dispair was so aangegryp deur die Blue Forever-lied dat hulle hom aangepas het om “Spairs Forever” te word.

Blue Forever, Blue Forever
Pride our colours yellow blue
Hammies we will always stand by you

Hammies, Hammies
Over many seasons
You have held our name up high
You’re our team, our hope, our inspiration
Victory is our only drive

Blue Forever, Blue Forever
From beginning ’till the end
He has got our dest’ny in His hand

Blue Forever, Blue Forever
Proud our colours yellow blue
Hammies we will always stand by you

’n Nuusbrief word met tuiswedstryde uitgedeel, of dit nou swart ink op gewone wit papier is, of ’n glansboekie vir ’n ietwat meer spesiale wedstryd. Want die spelers wat in blou en geel op die veld gedraf het moet tog ’n nalatenskap hê wat aangeteken is.

Die klub het handleidings vir nuwe bestuurslede en hou daarvan om ’n tikkie seremonie en prestige by wedstryddae in te bring ter wille van die spelers. Die klub het byvoorbeeld al die o.21- en o.19 Bokkies na Esselenpark gebring om onder die klub se vaandel te kom speel.

Op Facebook verwys klublede na hulself as familie en die woorde “Blue Forever” het ’n soort groet onder klublede geword.

En die klub het nooit ’n ander tuiste as die Esselenparkstadion gehad nie – ’n bekende stadion in die land in die ou bruin bedeling. “So het Hamiltons altyd deel gebly van daardie plek; die plek wat deel was van sy legacy,” sê oom Charles.

Die klub, wat in die dae van Boland SARU een van die sterkstes was en sy krag deur die jare behou het, het heelwat topspelers opgelewer. Daar was byvoorbeeld manne wat op nasionale vlak uitgeblink het, soos John Triskey, Thurston Josephs and Joslyn Ontong. Selfs die huidige afrigter, Jeffrey Stevens, is a Springbok-sewesspeler in die nuwe bedeling.

“Ons het probeer om ’n kultuur daar te stel sodat ouens trots kan wees om met Young Hamiltons geassosieer te word. Ons praat ook van onsself as ’n familie – die spelers en die ondersteuners.

“Meeste van ons outjies is werkloos of semi-employed en jy kan nie net ’n borgskap gaan kry nie. Vir so ’n klub moet jy regtig ’n omgee hê. Daars net ’n vibe wat anders is.”

Die Hammies-man gesels ook nog oor beginselvastheid en volwassenheid onder klublede, en ’n lojaliteit waarin niemand hoef te twyfel nie. “Ons lojale ondersteuners was daar toe ons in 2012 weg moes speel (weens ’n beslissing van Boland Rugby). Verlede jaar het ons verloor en ons ondersteuners het juigend en singend om die veld gedans agter ons band, die Crusaders, aan waarvan leiers die naweek oorlede is…”

page02

Nie heeltemal sonder foute nie

Dit beteken nie Young Hamiltons ontken dat daar soms haakplekke is nie, maar hulle doen aktief voorbrand vir ’n sin van gemeenskap en goeie gees.

“Ons het ook maar ons fights nè, en daar is baie ouens wat nie in die span wil wees nie, maar jy sal nie hoor dat ons mense die span verneder nie,” sê oom Charles.

Leinad Bailey, klubvoorsitter, het verlede jaar met ’n wedstryd teen Worcester Villagers, wat ook gebruik is om legendes van ouds te eer, sy beroep op die Hammies-familie so gestel: “Dit is my bede en my wense dat rugby uiteindelik sal seëvier en dat vriendskappe so uitgebou sal word, dat dit nie vorentoe verongeluk of versteur sal word deur onverantwoordelike, ondeurdagte en feitelose uitsprake op sosiale netwerke wat ’n gemeenskap wat reeds gebuk gaan onder sosiale euwels nog verder van mekaar verwyder net omdat ons aan verskillende rugbyklubs verbonde is nie.”

Dié kultuur is besig om na die volgende geslag oor te spoel, met die beste bewys seker een van die jongmanne se ode aan sy span:

My Hammies Jersey

CJ McCaw Beukes

It’s a symbol of struggle, hope and overcoming. It represents those who has gone before us, who gave so much meaning to the jersey and laid the foundation for us.

Legends, Heroes and sometimes villains have worn this with so much pride because they realise what it means to wear it.

To our ardent supporters it has even been a light in their darkness, a relief from everyday struggles when for one day in the week they get to forget about everything and enjoy their favourite team playing rugby. It represents a rich history and strong culture – a brotherhood like no other, trusting those playing with you and loving them like your own family – to where we were and to where we are going.

It’s far more than laying your body on the line. It’s about protecting, honouring and respecting the jersey.

When wearing the jersey, we play not for the number on our backs but the symbol on our chests. The symbol on our hearts, the symbol that represents all that has worn it, all those who are wearing it.

Young Hamiltons from difficulties to success!

Blue Forever!

CJ McCaw Beukes (links) en ’n Blue Forever-ondersteuner.
CJ McCaw Beukes (links) en ’n Blue Forever-ondersteuner.

Z10

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (6 votes, average: 4.33 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Vir Worcester se vroue, deur Worcester se vroue

"Power to me is the ability to make a change in a positive way." - Victoria Justice Vroue maak nie...

Close