Breaking News

No breaking news at this time

Geskiedenis, diversiteit, prestasie – Villagers hét dit

Worcester en sy rugby-aanhangers sal hierdie naweek weer die hoofopskrifte haal. Die plaaslike rugbyreuse Villagers Worcester sal die Welkom Rovers in die openingswedstryd van Saru se Gold Cup-toernooi aanvat – en alle oë sal op Bolandpark wees vir die rekordgetal toeskouers wat verwag word.

“Club rugby is alive and well in Worcester” het die afgelope paar maande ’n gewilde refrein geword. Rugbykommentators praat gereeld oor die tienduisende toeskouers wat die stadion met groot wedstryde volpak – veral vir wedstryde teen Young Hamiltons en Worcester Perseverance, en Robertson RVK van die buurdorp – en die gees en toewyding wat daardie toeskouers op hulle mou dra.

Gaan hierdie naweek aan die verwagtinge voldoen? Daarvan kan jy amper seker wees.

Plaaslike klubs het dié week sosiale media gebruik om Villagers te bedank vir die gratis kaartjies wat hulle aan klublede geskenk het. Klubs van elders het Villagers sterkte toegewens. Dit is asof ’n hele rugbygemeenskap agter die manne in blou en rooi saamtrek.

So wie is hierdie manne en wat is hulle storie?

Villagers Worcester RVK se geskiedenis strek oor meer as 130 jaar (die klub is in 1883 gestig – ’n kortkoppie agter Hamilton RVK van Kaapstad en Stellenbosch RVK, wat albei in 1875 gestig is). Dié lang geskiedenis plaas Villagers in dieselfde liga as ander ikoniese Worcesterse instellings, soos die Instituut vir Blindes (nou Kaleidoskoop SA), die Nasionale Instituut vir Dowes en die plaaslike koerant, Worcester Standard.

Volgens Villagers se mediaman en erelid Alver Uys, spog die klub met ’n klas speler wat ander klubs net kan beny. Villagers het ’n indrukwekkende 200 provinsiale spelers opgelewer en nie minder nie as nege spelers wat in die destydse Saru-era nasionale kleure verwerf het: Johnnie en Isak Neethling, Charles January, Noland Grove, Maurice Hankey, Christy Noble, Abe Felix, Christy Pietersen en Marthinus Serfontein.

’n Hoogtepunt van Villagers se geskiedenis ná apartheid, was die MTN Nasionale Klubkampioenskap in 2000 by Loftus Versfeld in Pretoria. Dit het die rugbygemeenskap se oë oopgemaak vir die talent in die span. Pat Marran en Steven Nkoko is gekontrakteer deur die Goue Leeus, Hyron Thyse deur Griekwas, Denzil Manuel deur die Luiperds, en Dewey Swartbooi en Wayne Julies deur die Bloubulle. Henley du Plessis (Boland Kavaliers), Deon Davids (provinsiale afrigter) en Sammy Horne (SA studentespan) was ook in daardie toernooispan.

Kyk mens net na die afgelope twee of drie jaar, was Villagers die feitlik onoorwinbare Boland-ligakampioen in 2014 en 2015, en het hulle Boland in 2013 en 2015 in die Community Cup verteenwoordig. (Community Cup was die voorganger van die Gold Cup-toernooi vir nie-universiteitsklubs, wat vanjaar spanne van Namibië en Zimbabwe ook insluit. Net Villagers, Roses United (Wellington) en Wesbank (Malmesbury) het Boland al in dié nasionale toernooi verteenwoordig.)

Die Worcesterse span het verder verlede jaar heelwat spelers opgelewer vir Boland se Kavaliers-, Amateur-, o.21- en o.19-spanne, terwyl eerstespanafrigter Johan de Koker ook die Boland Amateurspan gebrei het. Villa het selfs twee spelers in die nasionale polisiespan gehad!

So daar kan nie twyfel wees dat Villagers nog altyd presteerders was nie.

Uit die kaptein se oogpunt

Eerstespankaptein Yrin Belelie glo die naweek se wedstryd op Bolandpark, wat deur SuperSport uitgesaai gaan word, sal ’n hoogtepunt van die huidige era wees. “Elkeen wat al ooit by die klub betrokke was, was net daar vir ’n kort rukkie in vergelyking met die klub se lang geskiedenis. Ek is gelukkig dat ons, in die kort tydjie wat ons die geleentheid het om betrokke te wees, die klub op ’n vlak kan kry waar ons op nasionale vlak deelneem, op TV.”

Dan voeg hy by: “Die truuk sal wees om nie net deelnemers in die toernooi te wees nie, maar die beker te wen…”

Hy het hoop. “Uit die spelers se perspektief is ons baie opgewonde. Ons het baie goeie oefeninge gehad hierdie week en daar’s energie!”

Jowayne van Wyk, Ivan Pekeur (Boland Rugby-president) en Yrin Belelie met die Gold Cup-trui waarin Villagers Worcester sal speel.
Jowayne van Wyk, Ivan Pekeur (Boland Rugby-president) en Yrin Belelie met die Gold Cup-trui waarin Villagers Worcester se spelers sal uitdraf. Alle foto’s deur Jaydee Belelie.

Villagers se inklusiwiteit

“Weet jy, dis amazing hoe Villagers elke naweek bruin en wit spelers op die veld het sonder om ooit ’n groot geraas daaroor te maak,” het iemand onlangs by ’n sosiale geleentheid gesê.

Ja, dit word opgelet, maar dit is nie ’n issue nie, sê kaptein Yrin. “Dit maak nie saak watse ras jy is nie, ons aanvaar jou straight. Jy moet net ’n goeie rugbyspeler wees. En deesdae was meeste ouens in gemengde skole, so hulle is gewoond daaraan om saam met verskillende mense te speel. Ons geniet dit eintlik om ’n diverse groep te wees: dit maak dit minder boring!”

“Die eertydse Boland-rugbykaptein Johan van der Merwe was een van die eerste wit spelers in die land wat by ’n sogenaamde bruin klub aangesluit het na eenwording,” sê Alver.

Johan sê in daardie stadium – in 1996 of 1997 – het dit vir hom as Boland-kaptein net meer sin gemaak om by Villagers te speel as om “terug te gaan” na ’n wit klub toe. Hoewel hy geensins twyfel dat dit hoogs ongewoon was nie, sê hy dit het nooit by hom opgekom om ’n “statement” te maak nie. “Die transformasie by Villagers het baie natuurlik gebeur. En ek móét sê dat my tyd by Villagers ongelooflik verrykend was.”

Die eerste swart spelers het by die klub aangesluit toe Zwelethemba se Olimpics, wie se toekoms in daardie stadium onseker was, die geleentheid gebied is om by Villagers aan te sluit, êrens kort na 1994, sê Alver.

So wanneer Villagers (of Villa) en hulle ondersteunersklub die gemeenskap uitnooi om hulle Saterdag op Bolandpark te ondersteun, bedoel hulle die hele gemeenskap.

Die ondersteunersklub

Villagers Worcester (OneLogix United Bulk Villagers Worcester, om die amptelike naam te gebruik) se ryk geskiedenis en volop prestasies het plaaslike aanhangers geïnspireer om ’n amptelike, outonome ondersteunersklub te stig. Dit is in April verlede jaar op die been gebring.

“Ondersteunersklubs is nie ’n nuutjie in wêreldsokker nie, maar dit is ’n nuutjie in klubrugby,” sê mediaskakelbeampte vir die ondersteunersklub, Stephan Neethling. “Vir ons is dit ’n geweldige eer om met een van die oudste klubs in die land geassosieer te wees; en dis ’n gemeenskapsklub.”

Stephan is ook trots op die finansiële bydrae wat die ondersteunersklub vir Villagers maak deur die massas toeskouers wat hulle deur die hekke bring, asook die speler van die wedstryd-prysgeld wat hulle met tuiswedstryde beskikbaar stel.

“Al ons ondersteuners is baie opgewonde oor Saterdag se wedstryd. Ons hoop ons kan vir een naweek die banter met ons buurklubs wegsit sodat almal Villagers kan ondersteun. Die Villagers-spelers verteenwoordig nie net die klub en die dorp nie, maar ook die streek en Boland.”

Die belangrike inligting vir Saterdag se wedstryd

Datum: Saterdag 10 September

Plek: Bolandpark, Worcester

Afskop: 14:45

Kaartjies: R5 vir o.13’s; R10 vir almal ouer as R13. R10 per voertuig

08:00 – Kaartjieverkope begin by die hoofhek

10:30 – Hekke open

12:00 – Roodewal Primêr vs Esselenpark Primêr (o.13)

12:45 – Hexvallei Sekondêr vs Langeberg Sekondêr (o.19)

img_9959-002
Villagers Worcester se ondersteuners sorg by tuiswedstryd ná tuiswedstryd vir ’n see van rooi op Bolandpark se paviljoene.

img_8753

page01

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (9 votes, average: 4.33 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
abrahams-results-centre
The IEC power couple who call Worcester ‘home’

What does it feel like to work in the Electoral Commission’s results centre in Pretoria while frantically trying to finalise...

Close