Breaking News

No breaking news at this time

Waarom Worcester se ginekoloë ophou babas vang

“As jy al ooit in jou lewe ’n vars babatjie vasgehou het, deel was van daardie eerste asemteug… Dit is die lekkerste gevoel op aarde.”

Dr. Emile Manefeldt het in ’n onderhoud vroeër vanjaar vertel waarom hy gekies het om ’n verloskundige te word. Hy het gepraat oor elke bevalling wat spesiaal is, die nege maande wat hy saam met elke baba se ouers stap, die gemoedelikheid in die kraamsaal, die trauma as ’n baba daar verloor word en die gees onder die dorp se ginekoloë en kraamsaalpersoneel.

“Ons ginekoloë werk ongelooflik lekker saam. En die kraamsaalpersoneel is die beste personeel van enige plek in die wêreld waar ek al gewerk het. Ons vorm ’n ongelooflike span omdat ons baie lief en leed daar deel.”

Dr. Kobus Graaff, wat in sy vierde jaar op universiteit besluit het om verloskunde sy loopbaan te maak, is minder sentimenteel. “Ek is nou nie so dramaties oor babatjies wat vasgehou word en so nie. Dis vir my net ’n lekker vakgebied.”

Twee maande later het albei, en hulle kollegas Corrie Prins en Steyn Smit, besluit hulle gaan net tot 31 Maart volgende jaar babas vang.


babas-vang-2

Die besluit deur Worcester se vier privaat ginekoloë, om die verloskunde-deel van hul praktyke te staak, is amptelik. Dokters Graaff, Manefeldt, Prins en Smit het Vrydag 16 September ’n gesamentlike brief, deur al vier onderteken, uitgereik. Daarin het hulle aan mense wat geraak word verduidelik waarom hulle “die moeilikste besluit van hul professionele lewe” moes neem.

Hulle gaan geen normale geboortes óf keisersneë meer hanteer nie, en ook nie voorgeboortesonars doen nie. Swanger pasiënte is die afgelope maand reeds na dokters anderkant die berg verwys.

“Hierdie besluit is teweeg gebring primêr weens die astronomiese koste van vrywaringsversekering (“indemnity insurance”) en die buitensporige eskalasie daarvan die afgelope twee jaar,” skryf die dokters in hulle brief. “Die koste daarvan is sodanig dat ons dit eenvoudig nie kan bekostig nie. Ons versekering is tans die hoogste van enige geneeskundige beroep en die aanduidings dat hierdie kostes in die nabye toekoms nogeens buitensporig gaan eskaleer is redelik seker.”

“Die versekering teen eise – die indemnity cover – het die afgelope paar jaar so eskaleer dat dit nou op ’n punt gekom het waar ons almal teen ’n verlies werk,” het dr. Smit in ’n telefoniese onderhoud gesê. “Dit kos my meer om ’n bevalling te doen as wat ek vir ’n bevalling kry. En ons het probeer om ’n bybetaling te vra, maar die mense betaal dit nie.”

In die brief sê die ginekoloë hulle verwag die verliese wat hulle tans ly gaan in die toekoms net groter raak.

’n Landwye probleem

Dr. Johannes van Waart, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Verloskunde en Ginekologie (SASOG), sê dokters wat verloskunde staak oor die hoë koste van vrywaringsversekering is ’n landwye probleem. Hy noem dit ’n tsoenami in wording.

“SASOG het nie harde syfers nie, maar ons skat dat so 50 tot 80 verloskundiges verlede jaar verloskunde verlaat het en nou net ginekologie doen. In julle omgewing het twee van die vier verloskundiges in die Paarl ook verloskunde gestaak. Ons verwag dat hierdie tendens gaan voortduur teen heelwaarskynlik dieselfde of selfs ’n versnelde tempo. Hierdie is vir SASOG ’n geweldige bekommernis.

“Ek dink nie die algemene publiek en die regering besef die volle impak van wat aan die gebeur is nie. Indien dit aangaan soos tans, [gaan] daar weinig privaat verloskundiges in Suid-Afrika oor wees oor drie of vier jaar. Die vraag is of die staatsisteem die ongeveer 140 000 ekstra bevallings in ’n reeds oorvol sisteem sal kan hanteer?”

Dr. Van Waart verduidelik waarom verloskundiges se boeke nie meer klop nie. “Die koste vir volledige dekking is tans R650 000 per jaar. Die nuwe premies word eersdaags deur die Medical Protection Society (MPS) met SASOG bespreek en ons sal nie verbaas wees as die premies teen 2018 ongeveer R1 miljoen per jaar sal wees nie.”

Hy sê teen die huidige tarief kos dit R4 200 per pasiënt net om die versekering te dek (SA ginekoloë se gemiddelde bevallings van 13 elk per maand in ag genome). “As praktykkostes en BTW en dies meer bykom, is die basiese kostes om gelyk te breek ongeveer R10 000 tot R12 000 per pasiënt. Hiervan betaal die meeste mediese fondse slegs sowat R4 200 (ononderhandelbaar) per bevalling uit. Dit ten spyte van die feit dat vrywaringsversekering gestyg het van R180 000 per jaar in 2013 tot R650 000 in 2016!”

Waarom hierdie hoë koste van dekking?

Die MPS (deur wie die meeste SA verloskundiges dekking geniet) sê in die Mei-uitgawe van hul tydskrif Casebook dat die hoeveelheid eise teen dokters in Suid-Afrika in die algemeen met 27% gestyg het tussen 2009 en 2015. Daarby het die grootte van die eise met 14% toegeneem.

Hulle sê dié tendense dwing hulle om lidmaatskaptariewe te verhoog en bekostigbaarheid vir sekere spesialisvelde te verminder. Verloskunde is ’n veld wat selfs bo die res uitgesonder word.

Dr. Graham Howarth, hoof van mediese dienste in Afrika by die MPS, sê professionele dekking vir verloskundiges is ’n uiters komplekse veld. “Ledegeld word vasgestel ná gedetailleerde en omvattende aktuariële ontledings van tendense in ’n streek en veld oor die grootte en frekwensie van eise.

“Geboorteverwante beseringsrisiko is ’n baie spesifieke soort risiko weens die lang tydperk wat kan verloop tussen die voorval en die klagte of eis. In sommige gevalle kan dit meer as 20 jaar wees. En weens die aard van die beserings (soos katastrofiese neurologiese beserings) is dit dikwels die heel grootste eise. Die vertraging kan ’n noemenswaardige impak hê op die finale waarde van die eis, veral as daar wetgewings- of regsveranderinge was, of ’n toename in die koste van sorg en beter lewensverwagting. Die toename in die koste van sulke eise is ’n wêreldwye probleem en maak enige prysbepaling van verloskunde-risiko ’n groot uitdaging.”

Dr. Howarth sê omdat die MPS ’n organisasie in lede-besit is, het hulle ’n verpligting om genoegsame ledegeld in te vorder om verwagte toekomstige eise teen lede te dek en só ook die fonds te beskerm.

babas-vang

Wat is die impak op Worcester?

Wat staan ’n swanger vrou in Worcester nou te doen? Sal sy ná 31 Maart op Worcester gehelp kan word as sy in nood is? Gaan Mediclinic Worcester (waar meer as 330 babas die afgelope jaar gebore is) se kraamsaal nou leeg staan? En hoe word die kraamsaalpersoneel geraak? Hoe beïnvloed die besluit die plaaslike pediaters (wat na ’n baba omsien onmiddellik na geboorte)? En gaan die ginekoloë se praktyke oorleef as hulle verloskunde staak?

Dr. Smit sê nie een van hulle is seker of hulle finansieel sal oorleef deur net ginekologie te doen nie, maar hulle weet vir seker hulle sal nié oorleef as hulle voortgaan om bevallings te hanteer nie.

Dit raak hulle ook persoonlik. “Dit was en is vir ons ’n uiters emosionele besluit,” het die dokters in hul brief gesê. “Verloskunde bly vir ons ’n passie en is ’n ongelooflik bevredigende en positiewe deel van ons beroep. Om [dit] vaarwel te roep was vir elkeen van ons die moeilikste besluit van ons professionele lewe.”

Dr. Willie Roux, ’n plaaslike pediater, sê pediaters leer deur die jare heen die hele gesin goed ken. “Ons sien hulle gereeld in die spreekkamer en ons is saam baie opgewonde as daar ’n nuwe aankomeling op pad is. Dit is altyd vir ons ’n groot voorreg om die babas te kan ontvang en te versorg, en dit is vir ons ’n baie spesiale deel van ons werk.”

Dr. Roux sê Worcester beskik ook oor ’n neonatale intensiewesorgeenheid met van die beste apparaat wat beskikbaar is en ook die beste personeel waarmee hy nog saamgewerk het. “Dit gaan dus natuurlik vir ons en ons hele omgewing ’n groot ramp wees!”

Mediclinic se amptelike kommentaar oor die impak op die hospitaal is: “Op hierdie stadium meen ons dit is te vroeg om te weet hoe dit ons besigheid kan beïnvloed, of te bepaal of dit ’n tendens binne die breë raamwerk van ginekologie sal word. Indien ’n dokter se praktyk verkies om nie ondersteuning te verskaf nie, sal dit as ’n operasionele kwessie hanteer word wat op hospitaalvlak bestuur moet word. Enige moontlike groter impak op die besigheid sal oor die lang termyn beoordeel word namate meer inligting beskikbaar word.”

Oor noodgevalle sê Mediclinic: “Ons doel is nie om enige pasiënt  te benadeel nie en dus sal nood altyd hanteer word, ongeag die diagnose.”

Vroue wat nou swanger raak en privaatsektor-sorg verkies, sal praktiserende verloskundiges in die Paarl, Stellenbosch, Somerset-Wes of die noordelike voorstede van Kaapstad moet soek.

Anélda de Wet van Worcester, wat haar tweede baba in April verwag en reeds ’n ander verloskundige moes kry, sê dit is prakties “net moeiliker”. Dit bring ook ekstra uitgawes mee omdat sy moet deurry Stellenbosch toe. Hoewel sy baie vinnig ’n afspraak kon kry, is dit nie so maklik vir haar man om by elke sonar te wees nie en die logistiek rondom die geboorte is nog onseker. “Dis nie lekker nie. Jy wil by jóú gynae wees.”

Gaan die situasie ooit verander?

Die gevolgtrekking van groot rolspelers is dat die situasie kan verander, maar dit gaan ’n geweldige poging van baie mense verg.

Die MPS het in November verlede jaar die stuk Challenging the Cost of Clinical Negligence: The Case for Reform gepubliseer, wat hulle hoop op “openbare beleid-vlak” ondersoek sal word. Daarin word verskeie voorstelle gemaak wat hopelik vir pasiënte ander alternatiewe sal bied as om slegs die regs-opsie te kies, wat die uitgerekte regsproses sal verkort en kostes sal afbring, en moontlik wetlike beperkings sal plaas op eise vir skade en toekomstige verliese.

Dr. Van Waart sê SASOG het onlangs die BetterObs-program ontwikkel en is besig om dit uit te rol. “Die hoofdoel hiervan is om bevallings nog veiliger te maak vir moeders en babas. Sodoende gaan daar minder (en kleiner) eise wees.

“Die vrywaringsversekeringsmaatskappye gaan eers aanpassings maak as eise minder en kleiner word. Ek voorsien dat dit wel gaan verbeter, maar net as almal – SASOG, mediese fondse, die regering, die regsberoep, die privaat hospitaalgroepe en die pasiënte – gaan saamspeel en elkeen sy deel van die verantwoordelikheid gaan neem!”

Vir die Worcester-ginekoloë sal dit uitstekende nuus wees. “Ons is en bly onherroeplik verbind tot die soeke na ’n oplossing vir hierdie toedrag van sake en sal geen energie spaar in hierdie verband nie. Ons grootste begeerte is steeds om ’n oplossing te vind wat ons in staat kan stel om ons diens te hervat.”


• Het jy ’n plaaslike storie wat jy graag wil vertel of wil lees? Klik hier om ’n voorstel te maak.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (12 votes, average: 4.83 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
follies-rock-u
Is jou plek al bespreek by die paartie van die jaar?

Die inhibisies waai sommer so saam met die beenhare. Dís hoekom Follies na 20 jaar nogsteeds die paartie van die...

Close