Breaking News

No breaking news at this time

Sakeman se studies maak dalk nuwe deure vir Dowes oop

Dowe jongmense op Worcester sal dalk in die toekoms ’n nuwe loopbaankeuse kan maak danksy die navorsing van ’n plaaslike sakeman en MBA-student.

Maar, sê Herman Bester, besturende direkteur by AC Security, dit is nog nie ’n uitgemaakte saak dat dié doel van hom sal realiseer nie.

Herman is tans in die vierde jaar van sy studies vir ’n meestersgraad in sake-administrasie (MBA) aan die Universiteit Stellenbosch Sakeskool (USB). Hy moet nog ondersoek of opleiding vir Dowes as operateurs in die Stad Kaapstad se kamera-kontrolekamers lewensvatbaar is, asook hoe dit geïmplementeer kan word.

Vir dié doel het die biermaatskappy SAB se Stigting vir Maatskaplike Innovering R75 000 aan hom toegeken. Dit was een van die toekennings in hulle jaarlikse kompetisie om verdienstelike projekte te identifiseer wat mense se lewenstandaard sal verbeter.

Volgens die USB se webwerf moes Herman aanvanklik drie dinge deur sy navorsing bepaal:

• Is daar ’n vraag na Dowe operateurs onder mense wat reeds operateurs in kamera-kontrolekamers in diens neem?

• Is daar ’n aanbod van Dowe mense wat as operateurs wil en sal werk?

• Wat sal die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) moet doen as hulle bereid is om die opleiding as nuwe projek aan te bied?

Herman sê sy navorsing het getoon dit sal nie prakties wees om Dowe mense by privaat sekuriteitsmaatskappye, in groot winkelsentrums of by verkeersdepartemente aan te stel nie. Die feit dat hulle nie kan hoor nie, maak die deurlopende radio-kommunikasie met reaksie-spanne onmoontlik.

Dit is egter moontlik dat hulle in die Stad Kaapstad se kringtelevisie-kontrolekamers sal kan werk as “spotters”. Van die sowat 120 operateurs in die stad, sê Herman, is sowat 30 “spotters” wat net vir verdagte aktiwiteite moet kyk en dit dan aan ’n toesighouer moet deurgee.

Nou moet Herman saam en die NID ’n loodsstudie saam met die Stad doen om vas te stel of die opleiding en indiensneming prakties uitgevoer kan word. Dit sal aanvanklik opleiding vir een Dowe student behels. Die waarnemings wat daar gemaak word, sal hulle help om die program uit te werk vir ’n drie weke lange toetstydperk met meer studente daarná. Eers dan sal Herman en die NID weet of dit ’n realistiese projek is. En dit is vir hierdie navorsing waarvoor hy die SAB-toekenning sal aanwend.

Herman Bester
Herman Bester

Waarom dié spesifieke projek?

Herman sê hy het vroeg in 2010 ’n episode van Carte Blanche gekyk waarin een insetsel gehandel het oor Dowe mense wat met groot sukses kleinhandelmonitering doen. Dit het hom aan die dink gesit oor ander sektore, en ook die sekuriteitsbedryf waarin hy werk.

“Die rede hoekome Dowe mense ’n baie goeie fit is vir so ’n tipe werk, is dat hulle sekere ander kwaliteite het wat horende mense nie het nie. Hulle is baie meer ingestel op liggaamstaal, hulle aandag word nie so maklik afgetrek nie, hulle kan baiekeer liplees. Hulle doen dit nie noodwendig 100% nie, maar dit is beter as by horende mense.”

Hy vertel dat Dowe mense reeds in Mexiko gebruik word om stedelike monitering vir verdagte aktiwiteite te doen, waar hulle die “angels of silence” genoem word. In ’n artikel in die Boston Globe wat in 2012 gepubliseer is, is geskryf dat ’n span van 20 Dowe operateurs sowat 230 kameras nagaan.

Nou hoop Herman hy sal ’n soortgelyke projek in Suid-Afrika kan help vestig. Maar daar moet nog water in die see loop. Hy glo hy sal nog ’n jaar of twee met die projek besig wees. Want dit is belangrik dat ’n projek wat so ’n groot, positiewe impak kan hê nie ryp gedruk word met gevolge wat dit kan verongeluk nie.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (1 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
kuns-marion-ryno
Kaleidoskoop-kunsuitstalling: 39 skilderye op openingsaand verkoop

Sowat 30 siggestremde inwoners van Kaleidoskoop SA het vanjaar 97 kunswerke geskep in die kunsprojek wat deur Ryno Eksteen bestuur...

Close