Breaking News

No breaking news at this time

Dans-duo deur na SA’s Got Talent se halfeindronde

Twee jong manne van Worcester het Sondagaand 9 Oktober deurgedring na die halfeindronde van SA’s Got Talent.

Two O’Bodix, oftewel Jethro Williams (20) en Stefno Prins (19), het die beoordelaars so beïndruk met hul robotic hip-hop dansroetine, dat hulle saam met 20 ander kunstenaars of groepe as semifinaliste gekies is.

Hulle sal op 23 Oktober in Johannesburg in die halfeindronde dans en voel hulle het ’n goeie kans “om miskien die finals te tref”.

Jethro en Stefno vertel hulle het op 30 April al vir die eerste oudisie in Kaapstad gegaan, waar ’n video-opname van hulle gemaak is. Omtrent drie weke later is hulle laat weet hulle het deurgedring na die volgende fase.

Hulle moes ’n dansroetine regkry om op 18 Junie voor die beoordelaars in die Baxterteater uit te voer. DJ Fresh, Jamie Bartlett en Shado Twala het hulle daar drie ja’s gegee. Dit was egter nie ’n waarborg dat hulle die halfeindronde sou haal nie, en die manne moes geduldig wag vir die goeie nuus.

Dit was nie baie maklik gewees nie, sê hulle. Die musiek was die grootste stresfaktor. Vir die teater-oudisies is ’n hele reeks liedjies waarvan hulle ’n mix wou maak die een na die ander weens uitsaairagte afgekeur. Op die ou end is net een van die liedjies goedgekeur en hulle moes drie dae voor die oudisies ’n heel nuwe roetine daarop begin inoefen. “Ons moes baie uit die boks uit dink. Tot die Saterdag toe ons al daar was, het ons nog moves uitgedink. Ons het baie gestres.”

’n Eie dansstudio

Jethro is ’n oud-Drostdyer en Stefno was in Hoërskool Breërivier. Hulle het in hulle laerskooldae al ontmoet toe Jethro se broer, Emilio, in 2008 die dansgroep Toxic Wockeez begin het. Agt jaar later dans hulle nog altyd saam. “As ons dans, is daar altyd ’n konneksie. Dit vloei net!” sê Stefno.

Hulle het verlede jaar, ná hulle in verskeie groepe gedans het, besluit om op hulle eie verder te gaan.

Die twee manne het nou hulle oog op professionele status en ’n dansstudio hier in Worcester, om iets te doen vir hulle gemeenskap. “Ons sien amper elke dag hoe baie mense hulle lewens opmors op die verkeerde goed. Baie kinders stel belang in dans en dit sal hulle uit die pad hou. In die verlede as ons ’n groep begin het, was daar baie kinders wat opdaag.”

Maar eers wil hulle hulself as ’n bekende danspaar vestig. “As die Here ons uitspaar wil ons die wêreld plat hardloop. Mense moet wéét van ons!”

Want, sê die twee, hulle weet maar te goed wat dans vir ’n mens kan doen. “Baiekeer voel ons miskien kwaad of gestres. Met dans het jy beheer oor jou gevoelens, en met ons danse express ons ons emosies,” vertel Jethro. “Daarna voel jy so verlig. Jy wil amper sê: Wow! Dankie!”

• Die halfeindronde van SA’s Got Talent begin volgende week (16 Oktober) en sal oor drie episodes versprei word. Two O’Bodix se dans sal op 23 Oktober regstreeks vanuit die Soweto-teater uitgesaai word. Worcesteriete kan dit daardie dag om 18:00 op e.tv sien. Net twee items uit elke halfeind-episode sal deurdring na die finaal.

Jethro en Stefno op die dag van die eerste oudisie.
Jethro en Stefno op die dag van die eerste oudisie.
Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (5 votes, average: 4.40 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
herman-cctv
Sakeman se studies maak dalk nuwe deure vir Dowes oop

Dowe jongmense op Worcester sal dalk in die toekoms ’n nuwe loopbaankeuse kan maak danksy die navorsing van ’n plaaslike...

Close