Breaking News

No breaking news at this time

Buurtwagte: Ons wys die gemeenskap begin iets dóén

Baie mense in Worcester werk skofte en is soms alleen by die huis. Dis goed om te weet daar is dan buurtwaglede wat tussen huise rondbeweeg. En as mens van ander mense verwag om rond te ry, behoort jy self ook jou deel te doen.

Dít, sê Byron Saunders, is die rede waarom hy lid van die Worcester-Wes-buurtwag is en naweke snags in sy voertuig klim om die strate te help patrolleer. Hy is een van meer as 20 lede waaruit dié buurtwag bestaan en het Saterdagaand 29 Oktober aan ’n gesamentlike Sektor 4-padblokkade deelgeneem.

Die padblokkade is deur die polisie gereël en het meer as 30 lede van Meiringspark en Worcester-Wes se buurtwaglede betrek. Daar was ook inwoners wat beplan om buurtwagte in ander woongebiede in die sektor op die been te bring. Die sektor sluit die hele dorpsgebied noord van die spoorlyn in.

Sers. Julian Plaatjies van die polisie, sektorhoof in Sektor 4, het aan die begin van die aand gesê die doel van die padblokkade is om bewustheid oor buurtwagte te skep, en om misdaadbekamping deur sigbaarheid op te skerp. Die blokkade is eers in Rouxweg voor die brandweerstasie opgestel, en daarna in Rabielaan by die ingang na Somersetpark.

Buurtwaglede het die polisie gehelp om voertuie af te trek, rekord te hou van die voertuie wat deur die blokkade is, en bewusmaking te doen. Verdagte voertuie wat deursoek moes word, is deur die polisie self hanteer. ER24 en AC Security – gereelde buurtwag-ondersteuners – was as deel van ’n gebeurlikheidsplan betrokke.

Sers. Plaatjies het die aand as ’n groot sukses beskryf en gesê dit was tot dusver die grootste padblokkade van drie wat al met die buurtwagte se samewerking gehou is. “Die mense wat afgetrek is was baie beïndruk. Ons gaan probeer om dit ’n maandelikse instelling te maak.”

dsc_0571

’n Daadwerklike verskil

Renier Kotze, ook ’n Worcester-Wes-buurtwaglid, het ná Saterdagaand se optrede gesê as dit gaan help dat minder mense onder die invloed van alkohol op die pad gaan – omdat hulle weet daar is gereelde padblokkades in Worcester – word ’n groot stryd gewen.

Sers. Plaatjies het op sy beurt gesê sigbaarheid maak ’n reuseverskil aan misdaadsyfers. Volgens hom is daar in woongebiede met buurtwagte ’n “merkwaardige afname” in sake wat gemaak word én in voorvalle wat vir kennisname by die polisie aangemeld word.

Johan van der Watt, buurtwagkoördineerder in Worcester-Wes, sê buurtwagte skep ook vir die polisie kapasiteit. “Wanneer ons patrollie ry, weet die polisie se skofbevelvoerder hy kan eerder patrollievoertuie in ander buurte aanwend. So word ál die buurte effektief beter gemonitor.”

Buurtwagte in Sektor 4 het die afgelope jaar sterk momentum gekry. In Meiringspark is daar volgens koördineerder Hannes Dippenaar tans 36 aktiewe lede wat naweke patrollies doen. “By my werk ek al die afgelope drie jaar aan hierdie ding,” sê hy. In Worcester-Wes is daar volgens Johan 24 aktiewe lede.

Johan sê die buurtwag se uitsluitlike doel is om misdaad te probeer voorkom. “Ons ry patrollie om vir verdagte aktiwiteit uit te kyk en moontlike probleme aan die polisie deur te gee. Ons is konstant direk met die polisie verbind.”

Al die buurtwaglede is vrywilligers wat ry wanneer hulle kan. Daar is geen verpligte skoftestelsel of gekompliseerde stelsels nie. Hulle gebruik net ’n WhatsApp-groep waarop lede elke aand afspreek wie beskikbaar is om watter tyd van die nag te ry.

dsc_0456

Wetlike vereistes

Daar word wel seker gemaak dat daar streng voldoen word aan die voorskrifte vir buurtwagte soos deur die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid bepaal word.

Daarom is elke lid op die buurtwag se rekords en elke voertuig wat patrollie doen se registrasienommer word streng aangeteken. Voertuie is gemerk met buurtwag-kentekens en sigbare wit liggies wanneer hulle patrollie ry. Die WhatsApp-groep waarmee lede met mekaar kommunikeer word gebruik om ’n amptelike voorvallerekord aan die polisie deur te gee.

“Ons het regtig moeite gedoen om die buurtwag reg aan te pak. Met die hulp van die polisie en Gemeenskapspolisieforum (GPF) het ons seker gemaak wat hulle, en ook die departement, se vereistes is. Ons kan nie toelaat dat goeie werk in gedrang kom deur onprofessionele werkswyses nie. Ja, ons is vrywilligers, maar ons weet hoe belangrik die reëls is.”

dsc_0472

’n Gemeenskap wat betrokke raak

Sers. Plaatjies, ook waarnemende polisiewoordvoerder ten tyde van die padblokkade, het gesê die polisie het groot waardering vir inwoners se betrokkenheid as buurtwaglede, en hul positiewe gesindheid. Hy voel egter dié soort betrokkenheid kan nog baie uitgebrei word.

Vir dié wat reeds deelneem is die motivering feitlik altyd dieselfde: Die manier om jou kommer oor misdaad aan te spreek, is om dit self te help bestry.

“Ons is nie veronderstel om agteroor te sit en te kla oor misdaad sonder om iets te doen nie,” sê Jenny du Toit. En ek voel as jy jou deel doen om die gemeenskap veilig te hou, sal hulle daar wees vir jou as jy hulle nodig het.”

“Dis ter wille van die veiligheid van almal in die buurt,” sê Virleën Mostert.

“Die polisie kan nie oral wees nie,” sê Pieter Hugo. “Ons is hulle oë en help so om die gemeenskap te beveilig. En op aande soos vanaand wys ons vir die negatiewe elemente die gemeenskap begin iets dóén!”

Byron beaam dit: “As elke ou sy deel doen, bring hy die misdaad af. As ek dit van iemand anders verwag, moet ek dit ook self doen.”

dsc_0311dsc_0333dsc_0381dsc_0348dsc_0404dsc_0422dsc_0361dsc_0363dsc_0443dsc_0578dsc_0643

Die Worcester-Wes-buurtwaglede wat Saterdagaand aan die padblokkade deelgeneem het.
Die Worcester-Wes-buurtwaglede wat Saterdagaand aan die padblokkade deelgeneem het.
Die Meiringspark-buurtwaglede wat deelgeneem het.
Die Meiringspark-buurtwaglede wat deelgeneem het.
’n Groepfoto van Sektor 4 se buurtwagte, polisie en ander betrokkenes.
’n Groepfoto van Sektor 4 se buurtwagte, polisie en ander betrokkenes.
Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (5 votes, average: 4.40 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Prepare for a weekend of festivities and action in Bonnievale

Written by Riana Hanekom All photos supplied Tucked into the ‘valley of cheese and wine’ between the Langeberg Mountains, the...

Close