Breaking News

No breaking news at this time

Van helikopters tot oogdruppels deel van ‘Goudini-wonderwerk’

Van die vlieëniers in die helikopters tot die onbekende mense wat oogdruppels vir brandslaners kom aflewer het… Daar is volgens die inwoners van Goudini, wat Woensdag 11 Januarie teen ’n vernietigende brand moes veg, honderde helpers om voor dankbaar te wees.

“Dit was soos een massiewe kudde mense wat bymekaargekom het,” sê Louise van Tonder van ATKV Goudini Spa, wat hulle hele oord moes ontruim. En die bure stem saam.

Goudini Spa se bure

Charmaine Carstens van Die Eike, net oorkant die spa se ingang, sê daar was so baie mense wat die brandweer kom help het, soos boere van die omgewing en so ver as Wellington, dat mens nie iemand kan uitsonder nie. Die brand het so naby aan haar woonhuis anderkant die Slanghoekpad gekom dat van die geute gebars het, maar die Breedevallei Munisipaliteit se brandweer kon dit red.

“Hier is mense wat ek nie eers ken nie wat gehelp het,” sê sy. Dis wel vir haar baie belangrik dat haar eie personeel en plaaswerkers bedank word. “Die brandweer en boere kry erkenning, maar die plaaswerkers het net so hard gewerk. Hulle huise kan brand, en dan kom help hulle vir my!”

’n Plaasbestuurder wat naby Die Eike woon en wie se huis se geute ook begin smelt het, Albert Oberholser, sê daar was meer vrywilligers, boere en plaaswerkers as wat daar brandweer was. “As dit nie vir hulle was nie sou die skade baie meer gewees het. Ons is baie dankbaar vir hulle.”

Philippie van der Merwe van die plaas Grootvlakte, tussen die oord en Badsberg Kelder, sê “bitter, bitter baie mense” het kom help – boere rondom hulle en vriende van Rawsonville. Die brand is meters van die plaasopstal verby en het tot feitlik teen van die werkers se huise gebrand.

Charmaine Carstens se woonhuis het byna in die slag gebly na die brand oor die Slanghoekpad gespring het. Die hitte het die geute laat bars.

Hulp was binne minute daar

“Dit was ’n kwessie van minute toe is die meeste van die boere hier in hulle bakkies,” sê Louise van Goudini Spa. “Die 19 wynkelders…omtrent almal van hulle het gekom. Die polisie…ek dink tot so hoog op soos die kolonel was hier. Plaaswerkers wat naby ons bly, ons eie personeel en selfs gaste het gehelp.”

Op die ou end het net een rondawel in die oord afgebrand en drie se rietdakke is beskadig. “Maar alles, selfs ons personeel se huise, was in gevaar. Daar was in ’n stadium seker omtrent 100 mense wat teen die vuur baklei het soos die brand na verskillende plekke versprei het. Dit is ’n wonderwerk dat méér skade nie aangerig is nie.

“Natuurlik die brandweer, veral Danie Wilds (brandweerhoof by die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit)… Hy het die helikopters gereël wat natuurlik baie strukture gered het. Die brandweer was deur die nag daar,” sê Louise.

“Ons is nogal emosioneel oor al die hulp. Ons is absoluut nederig. Geseënd en dankbaar.”

Hulp vir die helpers

Op Facebook het Worcester FM ingespring om eet- en drinkgoed vir brandbestryders bymekaar te maak nadat die plaaslike brandweerhoof, Theo Botha, gesê het dit sal hulle baie help.

Quinton Manuel van Worcester FM sê die sowat 200 botteltjies water en ander energiedrankies en eetgoed was die gemeenskap wat gesê het “dis óns dorp”. “Dis ons verantwoordelikheid om seker te maak hy groei en hy brand nie af nie. Dis waarvoor Worcester FM hier is, en ek was amazed deur ons luisteraars.”

Ander vrywilligers het ook opgedaag. “Daar was mense wat oogdruppels kom afgee het vir die mense wat vuur geslaan het,” sê Charmaine. “Ons weet nie wie dit was nie.”

Ander instansies soos die Rawsonville Vryburgers, Worcester Yacht Club en ER24 het ook gehelp waar hulle kon. Maar inwoners is dit eens dat dit onmoontlik is om van almal te weet wat gehelp het en om almal te bedank. ”

Water wat die Rawsonville Vryburgers bymekaargemaak het. Foto: Vryburgers Rawsonville

Van die brandweerhoof se kant af

Danie Wilds van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê daar was uitstekende samewerking tussen die brandweerdienste van die distriksmunisipaliteit en die Breedevallei Munisipaliteit. Die polisie, provinsiale verkeersdepartement, ambulansdienste en selfs Cape Nature het ook groot werk verrig.

Volgens Danie het die brand, wat op ’n plaas teen die Badsberg begin het, in abnormaal moeilike omstandighede en in ’n stormsterk wind versprei. Dit het oor die Slanghoekpad gespring en later oor die N1, en ook verby Badsberg Kelder gebrand. Verskeie spanne was Vrydag nog besig om smeulende dele te blus. “Daar was niks wat enige mens kon doen om te verhoed dat dit by Goudini Spa uitkom nie. Hierdie was angswekkende oomblikke.

“Ons is gelukkig dat die helikopters kon vlieg. Ons is ook opreg dankbaar vir al die boere. Daar was soveel spuitkarre en toerusting wat hulle op hulle plase gebruik. En ’n boer wat ’n stootskraper gebring het om ’n pad vir ons te stoot.”

Danie is vol lof vir die personeel van Goudini. “Hulle het absoluut met toewyding en onverskrokkenheid gehelp – van topbestuur tot de laaste algemene werker.” Hy is beïndruk met die professionele manier waarop die bestuur die oord ontruim en die gaste behandel het, maar ook vir hul vermoë om in ’n krisis boonop drinkgoed en kos uit die restaurant se kombuis vir al die brandbestryders te voorsien. Hulle het ook Donderdag ’n dankdiens gehou en hul personeel goed bedank, sê Danie.

“Almal het die nood raakgesien en gedoen wat hulle kón doen. Ja, dit was ’n absolute wonderwerk, en ook baie toewyding van almal wat gehelp het. Sonder dit sou die brand definitief nie so gou onder beheer gebring gewees het nie.”

Elna von Schlichts, uitvoerende burgemeester van die distriksmunisipaliteit, het haar opregte waardering uitgespreek vir al die brandbestryders wat die distrikspanne bygestaan het, asook die groter gemeenskap. “Ons is besorg oor die skade aan eiendom, ekonomiese en sosiale impak, maar is diep dankbaar dat geen lewens opgeoffer is nie.”

• Indien jy van nog iemand weet wat besonderse werk gedoen het tydens die brand, lewer gerus kommenaar hier of op ons Facebookblad.

Werkershuise op die plaas Keurfontein in ’n see van swart.
goudini-brand
Die brand het tot feitlik teen Grootvlakte se werkershuise gekom.
Skenkings deur luisteraars van Worcester FM. Foto: Worcester FM
’n Foto wat die Worcester Yacht Club op Facebook geplaas het van hul “brandweerwa” waarmee hulle kom help het.
Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (8 votes, average: 4.25 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Passievolle nuwe span kry FAMSA op herstelpad

Hulle verdien nie ’n sent vir die werk wat hulle doen nie, maar twee bemarkingstudente van Boland Kollege is besig...

Close