Breaking News

No breaking news at this time

APD, Groenstoor span saam vir herwinning

Die Breedevallei Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) en Pure Boland Mark het onlangs kragte saamgesnoer om herwinning in Worcester ’n hupstoot te gee.

Met ’n nuwe herwinningsprojek wat APD pas by die maandelikse mark begin het, hoop hulle om nie net ’n ekstra inkomste vir die organisasie te genereer nie, maar ook mense in te lig oor hul herwinningsafdeling en herwinning in die algemeen.

“Dit gaan nie net oor hoeveel geld ons maak nie. Ons plant ’n saadjie,” sê Deonie Basson, bemarkingsbestuurder by Breedevallei APD. Hulle gebruik hulle stalletjie by die mark om mense te vertel van die werk wat die projek skep vir 18 mense met fisiese en verstandelike gestremdhede, en geestesgesondheidspasiënte. Dié mense verwerk afvalmateriaal, wat weer aan groter herwinningsmaatskappye verkoop word. Die inkomste wat so gegenereer word, word verdeel om hulle maandelikse staatstoelaes aan te vul.

Die projek by die mark behels APD-gemerkte dromme waarin besoekers herwinbare afval kan plaas. Mense kan ook herwinbare materiaal van die huis af saambring.

APD se herwinningsprojek skep werk vir 18 mense met gestremdhede.

Groenstoor wil nog groener wees

Tharina Jonker, stigter en eienaar van die Pure Boland Mark, sê hergebruik en herwinning is lankal reeds deel van baie uitstallers se kultuur, en sy wou hulle inisiatief versterk.

“Daar is ’n paar stalletjies wat upcycled produkte verkoop, soos glase wat van ou botteltjies gemaak word, geskenksakkies wat van ou tydskrifte gemaak word, die man wat hottrokkies slegs van afvalhout maak en een uitstaller wat haar ou meel- en suikersakkies in sakkies omskep waarin sy verkoopte produkte vir klante gee. Daar is die gebruikte bottels vir melk, gemmerbier en suurlemoenstroop, en die vlytbier-stalletjie waar jy hulle bierbotteltjies kan ingee vir hergebruik.

“My langtermynplan is om uitstallers te oortuig dis goed om weg te beweeg van plastiek- en polistireenverpakking. Ek sal graag ’n kultuur wil skep waar álmal wat ons mark besoek help om die impak op die omgewing so laag as moontlik te hou. Ek het APD genooi om by ons aan te sluit as deel van dié plan en ek hoop dat dit binnekort vrugte gaan afwerp.”

* Breedevallei APD is ’n niewinsgewende organisasie wat aktief werk om mense met gestremdhede se lewensgehalte te verbeter. Hulle dienste sluit werkskepping in, onder meer met ’n wassery, herwinningsafdeling, spyseniering en handgemaakte produkte, asook dagsorg, arbeidsterapie en maatskaplike dienste aan mense met gestremdhede in die hele Breedevallei.

• Vir meer inligting oor die Pure Boland Mark, klik hier.

• Vir meer inligting oor Breedevallei APD, klik hier.

Die span van APD wat die stalletjie Saterdag 4 Maart beman het.
Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Engen skenk meer as R2 miljoen vir APD

Engen Petroleum het vandeesweek ’n skenking van meer as R2 miljoen aan die Breedevallei Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD)...

Close