Breaking News

No breaking news at this time

Uitstalling gee besonderse blik op ’n Worcester wat was

Valleiers kan nog vandeesweek ’n uitstalling sien van ’n reeks meesterlike houtskoolsketse van Worcesterse tonele uit die verre verlede.

Johann Venter, wat werk onder die naam J. Petrus Venter, het maande bestee aan die skep van die kunswerke wat tans by die i-Art Galery te sien is. Dit is sover moontlik ‘n gertroue, maar in ’n mate ook ’n geromantiseerde weergawe, van die inligting wat uit die foto’s van weleer versamel kon word.

Die sketse is deel van ’n gesamentlike uitstalling deur hom en een van sy gewese studente, Marike Naudé.

Johann vertel dat ’n vriendin ’n klompie jaar gelede vir hom ’n paar foto’s van Julian Kritzinger, ’n kenner in plaaslike geskiedenis, gewys het. Dit het hom so gefassineer dat hy verder gaan soek het na tonele wat onder meer in die munisipale toerismekantoor gehang het en in die argief by Kleinplasie gehou is. “Ou foto’s interesseer my,” sê hy. “Dit vertel ’n dowwe storie van ’n ou wêreld wat nie meer bestaan nie.

“Ek het lank geloop met die gedagte om ’n uitstalling te hou van die sketse, en toe Marike my nader om ’n uitstalling saam met haar te doen, het ek die geleentheid  aangegryp.”

Hy sê hy sou graag méér as die tien sketse wat uitgestal word wou skep, maar die tyd het hom ingehaal.

Van sy ander werke op uitstalling sluit ook houtskool portrette, olie- en akrielskilderye in.

’n Lewe uit kuns gemaak

Johann is een van Worcester se mees gevestigde kunstenaars en woon al die afgelope 20 jaar hier. Hy was ’n beeldhoustudent in Potchefstroom, maar van die interessante paaie wat hy geloop het sluit onder meer in branderplanke verf (spray gun graphic designer) en Huisgenoot/Jongspan se Poskabouter-illustrasies vir meer as twee dekades.

Ten spyte van sy lang loopbaan, het hy maar onlangs eers ’n ware groot deurbraak gemaak, vertel hy. Van sy kunswerke hang in die voorportale van die Ultra City-vulstasies buite Worcester en een daarvan, Triptiek, is deur die Zeitz Museum of Contemporary Art Africa (MOCAA) aangekoop vir hul permanemte versameling.

Johann sê hy het ’n voorliefde vir houtskool. Hy verf, maar dis nie sy eerste liefde nie. Volgende op sy agenda is “vir ’n slag ’n bietjie beeldhou”.

Intussen kan belangstellendes sy en Marike se uitstalling by Kaleidoskoop se i-Art Galery besoek tot einde April.

Toegang tot die galery is deur Blindiana Barista in Kerkstraat. Ure is weeksdae van 08:00 tot 16:00.

Vir meer inligting oor Marike Naudé en haar kuns, klik hier.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Kunstenaarsprofiel: Marike Naudé

Sy is ’n gastehuiseienaar, boervrou en ma van drie. Marike Naudé, ’n oudonderwyseres van Worcester, het maar ’n paar jaar...

Close