Breaking News

No breaking news at this time

Heini bly plaaslike outjies se grootste ondersteuner

Dit was ’n week van eerstes vir 17 jong rugbyspelers van die Breederiviervallei: lughawe, vliegtuig, Frankryk. En môre is nog ’n groot dag. Die manne sal aantree vir drie wedstryde in ’n byeenkoms van die Foundation Heini Adams.

Die o.13- en o.14-manne het verlede jaar die toerspan gehaal toe hulle aan die jaarlikse Heini Adams-rugbydag in Worcester deelgeneem het.

Heini is ’n oud-Worcesteriet wie se rugbyloopbaan hom van skolerugby na Worcester Perseverance, Boland, die Blou Bulle/Bulls en daarna die Springbokspan geneem het. In 2010 het hy vir die Franse klub Union Bordeaux Bègles begin speel.

In 2012 het hy die AJ Foundation op die been gebring uit erkenning vir wyle André Jacobs, sy mentor en borg as jong speler. Hy sê sonder André sou hy nooit ’n professionele loopbaan sou kon volg nie. Hy wou ook geleenthede vir ander kinders skep soos wat André vir hom help skep het. (Die stigting se naam is later verander ter wille van bemarking in Frankryk, waar Heini bekend is.)

Die 17 plaaslike manne saam met hulle Franse eweknieë.

Uitblinkers by die rugbydag

Een van die stigting se inisiatiewe is die Heini Adams-rugbydae waarvoor Heini gereeld terugkeer Worcester toe. Verlede jaar is ’n oorsese toergroep vir die eerste keer gekies. “Sewentien skole het deelgeneem en ons het besluit om nie noodwendig die beste span te kies nie, maar die beste speler van elke skool,” het Francois van Rooyen, administrateur van die stigting, gesê kort voor hul vertrek.

En so het een speler elk van Avianpark, Roodewal, Riverview, Esselenpark, Sandhills, Orchard, Lorraine, Scherpenheuwel, Bonne Esperance, Touwsrivier, FJ Conradie, Ceres, Wellington, Morrisdale, RK en Moslem primêre skole vir ’n oorsese uitstappie begin voorberei.

Francois asook vier ander volwassenes, Granville Timm van Laerskool Roodewal, Mervin Witbooi, Warriodene Hansen en Claude Schroeder, is saam.

Die toergroep het Dinsdag 9 Mei vertrek en sal môre (Saterdag 13 Mei) hul wedstryde speel. Hulle sal 18 Mei weer tuis wees en intussen ook ’n paar verkenningsuitstappies doen.

* Die 17 seuns is: Bradley Booysen (Lorraine), Jody Booysen (FJ Conradie), Enrique Brits (Riverview), Marcelino Conradie (Scherpenheuwel), Quanne Conradie (RK), Ashley Jacobs (Wellington), Kairen Jacobs (Sandhills), Zhane Jansen (Avianpark), Lexhando Julies (Orchard), Nuruddeen Kariem (Moslem PS), Jandre Lamberdien (Glen Heatlie), Eltihano Maart (Bonne Esperance), Rogan Matroos (Ceres), Lewellyn Pieterse (Touwsrivier), Thuglin Snyman (Esselenpark), Wilbrune Wildschut (Roodewal) en Eldino Willemse (Morrisdale).

Voor die Worcester Stadsaal, kort voor hulle vertrek lughawe toe.
Die groep ontmoet Heini Adams in Bordeaux.
Heini Adams
By die Bordeaux-klubhuis.
Mondskerms is vroeër vanjaar deur Gauthier Coman aan die spannetjie oorhandig.

Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (3 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Latest Articles

More in Community
Uitstalling gee besonderse blik op ’n Worcester wat was

Valleiers kan nog vandeesweek ’n uitstalling sien van ’n reeks meesterlike houtskoolsketse van Worcesterse tonele uit die verre verlede. Johann...

Close