Breaking News

No breaking news at this time

Kaapse Draai: ’n Voet in die deur vir mikro-entrepreneurs

Maak hierdie naweek ’n draai by Kaapse Draai, nooi Danielia Hermanus Worcesteriete uit. Want in dié historiese gebou op die hoek van Hoog- en Trappesstraat, doen ’n winkeltjie in gemeenskapsmark-styl sedert die begin van die jaar sake. Boonop word die vierde groentemark Saterdag hier gehou.

Kaapse Draai Art & Craft Gallery bied aan mikro-entrepreneurs in die hele Breedevallei ’n uitstalruimte vir hulle hand- en tuisgemaakte produkte.

Kleurvolle skilderye, lampskerms van krale gemaak, dekorstukke uit hergebruikte hout, inkopiesakke van ou padkaarte, los kussings, lapkrale… Selfs oorbelle wat kunstig uit ou rekenaarparte gemaak is!

Vetplantjies in pragtige, handgemaakte houtblokke.

’n Gesamentlike platform

Danielia verduidelik dat baie plaaslike entrepreneurs nie hul eie persele of selfs bemarking kan bekostig nie. Dít is waarvoor Kaapse Draai daar is. Daar is tans 12 permanente uitstallers, maar getalle wissel. “Die winkel het ’n groot impak op van die uitstallers,” sê Danielia. “Hier is byvoorbeeld ’n man wat houtwerk doen en baie bestellings kry deur sy werk wat mense hier sien. Hierdie is as ’t ware sy vertoonlokaal, en ook al ons ander uitstallers s’n.”

Die mark word een keer per maand op ’n Saterdag gehou. Die fokus is varsprodukte maar ook mense wat handwerk en ander interessanthede verkoop. “Elke mark sal ook sy eie vermaak hê sodat ons ook blootstelling kan gee aan plaaslike talent,” sê Danielia.

Los kussings vir ’n tikkie styl.

Waar kom die idee vandaan?

Danielia is eintlik ’n sakevrou wat toerpakkette vir toeriste saamstel, veral met plaaslike kultuurskatte en kleinsakeondernemings as attraksies. “Ek het die idee vir die Kaapse Draai-winkel gekry toe ek in die Standard adverteer het vir plekke wat ek met toeriste kan besoek. Daar was soveel mense uit Riverview, Noblepark, Zwelethemba en selfs van YWAM wat sulke mooi goed vir my kom wys het.

“So Kaapse Draai gaan oor ondersteuning aan die klein outjies wat ook ’n bestaan probeer maak. Ons nooi alle Worcesteriete om te kom kyk en te sien wat die informele sektor in die Vallei het om te bied.”

Kaapse Draai Art & Craft Gallery, by Hoogstraat 165, is Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 16:00 oop en Saterdae van 08:00 tot 12:00. Die mark eerskomende Saterdag is van 09:00 tot 13:00. Die Nostalgia-koffiewinkel wat sedert April op dieselfde perseel is, is elke dag van die week, behalwe Sondae, van 08:00 tot 17:00 oop.

Vir meer inligting, bel Danielia by 078 464 6010, stuur e-pos na tourventures1@gmail.com of kry hulle op Facebook.  Vir meer inligting oor Nostalgia-koffiewinkel, bel Cobie by 084 514 6234 of kry hulle op Facebook.

Juwele uit ou rekenaarparte
Kralewerk-lampskerms.
Beskilderde tafeldoek.
Markdag by Kaapse Draai.
Vermaak word by elke mark verskaf deur talentvolle plaaslike mense.
Markdag by Kaapse Draai.
Een van die mooi stukke wat op die stoep uitgestal word.
Rate this article:
1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Latest Articles